Die leeu wat sedert vroeg verlede week in die Bethlehem-omgewing los rondgeloop het, is waarskynlik intussen gevang.
Die eienaar van die leeu het hom waarskynlik opgespoor en stil-stil teruggeneem.
So sê Tshediso Maitse, woordvoerder van die Dihlabeng-munisipaliteit.
Maitse sê voorts die leeu het nog geen vee gevang en gevreet nie en spore is nog nie weer opgemerk nie.
Maitse sê die departement van ekonomiese ontwikkeling, omgewingsake en toerisme sal ondersoek instel om te bepaal wie se leeu dit was.
Dié departement het egter nie op Netwerk24 se navrae gereageer nie.
Dr. Jane Buys, veiligheidskoördineerder van Vrystaat Landbou (VL), sê boere in die distrik het nie weer aangemeld dat hulle tekens van die rondloper-leeu gesien het nie.
Spore van die leeu is verlede Woensdag op die plase Astral en Rietfontein gevind.
Hy het glo onderdeur ’n draad langs die N5 gekruip om toegang tot die plaas Astral te verkry.
Lionsrock, ’n toevlugsoord van die dierewelsynsgroep Four Paws buite Bethlehem, het aan Netwerk24 bevestig dit is nie een van sy leeus nie.
Marie van Zyl, mede-eienaar van die Cheetau Lodge, ’n wild-en-gasteplaas buite Bethlehem, het ook bevestig dit is nie een van hul leeus nie.
Daar is wel nog ander leeuboere in die omgewing.





















