Die heel eerste World Leisure Holidays en Beeld-gholfweek in Mauritius verlede week van 7 tot 14 September was 'n klinkklare sukses.
Sewentien vierballe - 'n totaal van 68 spelers - het meegeding om pryse van sowat R550 000.

Henri Swanepoel, Ig Erasmus, Gerhard Bothma en Riaan Lotter het met die eerste prys weggestap ter waarde van R200 000 van World Leisure Holidays.
Elke speler wen vyf aande by Long Beach, wat R50 000 per persoon beloop. Die tweede prys van vyf aande by Ambre beloop R30 000 per persoon en is gewen deur Raymond Kamineth, Breyton Paulse, Gideon van Wyk en Chris du Preez.
Pieter van Aswegen, Emile Nel, Charl Blaauw en Jacques Blaauw se derde plek het hulle elkeen 'n vakansie van drie nagte by Ambre besorg ter waarde van R20 000.

Beeld het TaylorMade-wigysters oorhandig aan Debrah Walker, Martha Bergh, Josef van Dyk en Neil October wat algeheel vierde geëindig het.
Ruben Claassen, Nicolene Claassen, Barend Jansen en Uriah Jansen het TaylorMade-gholfsakke gewen vir hul vyfde plek.

Volgens Marlin Magadani, die bemarkingshoof van World Leisure Holidays, was die gholfweek 'n groot sukses. "Die gholfweek het al ons verwagtinge oortref. Ek wil graag almal bedank wat bygedra het tot die sukses van 'n onvergeetlike week. Ek wil ook baie dankie sê aan Beeld, Ysters op die landgoed, The Pro Shop, Starburst Promotions, Sunlife en die res van ons borge vir hul ongelooflike bydrae. Sonder julle sou dit nie moontlik gewees het nie. Ons gaste het 'n ware vyfster-ervaring by die Sugar Beach- en Long Beach-strandoord ervaar en die geleentheid gehad om op gholfbane van wêreldgehalte te speel. Ons sien reeds uit na volgende jaar se gholfweek."
Cornette Zietsman, die handelsmerkbestuurder van Beeld, is dit eens dat dit 'n reusesukses was.
"Die gholfweek het 'n groot impak gemaak. Met 68 gholfspelers wat deelgeneem het en sowat 30 metgeselle wat saamgegaan het, is 'n onvergeetlike geleentheid geskep om op drie wêreldklas-gholfbane oor die loop van die week te speel. Die eerste drie aande het almal by Sugar Beach oorgebly waarna 'n onvergeetlike vier nagte by Long Beach gevolg het.

"Met borgskappe van World Leisure Holidays, The Pro Shop en Sealy, kon Beeld vir elke speler drie handelsmerk-gholfhemde, -kepse en 'n -geskenksakkie gee, wat sekerlik bygedra het tot die gedenkwaardigheid van die geleentheid. Met pryse ter waarde van bykans R550 000 was die spelers behoorlik bederf by die prysuitdelings. Gedurende die galadinee is die 2025-geleentheid reeds aangekondig, met datums en oorde wat nog bevestig moet word. Die gevoel gedurende die dinee was waarskynlik dat die meeste spelers weer volgende jaar sal terugkeer en nog meer spelers saambring."
Beeld het verder pryse oor die drie dae verskaf van agt TO Strand-vakansies, agt retoervliegkaartjies van Lift, agt Garmin Approach S12 GPShorlosies, vier Bushnell Wingman Mini GPS-luidsprekers, vier Oakley-sonbrille en 12 dosyn Titleist Pro V1-gholfballe.
Die spelers was bederf met byna perfekte weer gedurende die drie dae se spel en nuwe, hegte bande is gesmee en selfoonnommers uitgeruil.

Die Kruger-vierbal van pa Jan Louis en sy seuns, Albert, Theunis en Louis, het met hul aansteeklike lag en vriendelike gesindheid gou in die harte van almal gekruip. Albert het saam met Louis Oosthuizen en Charl Schwartzel junior gholf gespeel het. Hy was Schwartzel se joggie in die 2015-Meesterstoernooi in Augusta, Georgia, en het sy tyd in Mauritius terdeë geniet.
"Dit was 'n onvergeetlike week in Mauritius. As jy na die perfekte kombinasie van 'n tropiese paradys en wêreldklasgholfbane soek, is dié gholfweek 'n droom wat waar geword het. Ek kan die week wat ons beleef het, nie genoeg aanbeveel nie. Anahita, wat deur Ernie Els ontwerp is, het 'n moderne gevoel gehad.
"Die 18de putjie wat jy al langs die see speel, was vir seker 'n hoogtepunt en iets wat my altyd sal bybly. Verder moet ek ook noem die vars seekos en ander disse wat ons gehad het, was hemels," sê Albert.



















