Die stapper van Langebaan aan die Weskus wat meer as ’n week gelede in die Tsitsikamma-natuurreservaat in die Oos-Kaap vermis geraak het, is Woensdagmiddag dood gevind.
Hermie van Zyl (74) het op 21 Oktober langs die staproete verdwyn. Hy het op die dag aan sy groep medestappers gesê hy is moeg en wil rus. Volgens inligting van die polisie is hy die laaste keer gewaar uit die rigting van die Heuningbos-hut op pad na die Sleepkloof-hut in die natuurreservaat.
’n Grootskaalse soektog is sedertdien van stapel gestuur waaraan verskeie organisasies, die polisie en MTO Trails deelgeneem het, en wat met tye deur slegte weer belemmer is. Van Zyl se hoed is Dinsdag gevind en sy lyk Woensdagmiddag laat.
“Hy het in die teenoorgestelde rigting van die staproete verdwaal, diep in die woud in,” het Anneke Wiehahn, Van Zyl se dogter, Donderdag gesê.
Volgens Wiehahn sal ’n lykskouing in Gqeberha gehou word.
Van Zyl se familie het vroeër laat blyk hy is ’n tandtegnikus van beroep wat krone en valstande by sy praktyk gemaak het. Hy het steeds op 74 gewerk.
Hy is ook beskryf as ’n ervare stapper wat graag staproetes aangepak het en fiks was. Hy het gehoorstukkies in albei ore gedra.
LEES OOK | Vermiste stapper (74) se hoed gevind
Van Zyl se skoonsuster, Jarite van Zyl, het nie Donderdag kans gesien om met die media te praat nie. Sy het egter onder meer op Facebook geskryf hulle is baie hartseer, maar dankbaar dat Van Zyl gevind is “en dat ons afsluiting en berusting kan kry ná hierdie nagmerrie-week van hoop, hoop, hoop”.
Sy het ook mense bedank vir hul ondersteuning en gebede, asook die soekgeselskappe vir hul volgehoue toewyding.
Volgens haar is haar boodskap (oor Van Zyl se verdwyning) nie minder nie as 908 keer gedeel. “Ons en julle het hard probeer,” het sy verder geskryf.
MTO Trails het in ’n verklaring sy meegevoel met Van Zyl se familie uitgespreek en elke persoon en organisasie bedank wat aan soektog deelgeneem het. “Hul onvermoeide pogings en deursettingsvermoë was merkwaardig,” lui die verklaring onder meer.
Volgens MTO Trails sal hy voortgaan om sy volle samewerking en bystand aan die owerhede te verleen terwyl hulle hul formele proses afhandel.




















