ANC-kongres

3 groot vertragings by ANC-konferensie

Die ANC se 54ste nasionale konferensie loop Woensdag by die Nasrec Ekspo-sentrum in Johannesburg ten einde. Dinsdagnag was dié einde nog glad nie in sig nie weens dié drie redes:

1. Die dispuut oor die verkiesing van die sekretaris-generaal.

* Ace Magashule, ANC-voorsitter van die Vrystaat, het dié pos met 24 stemme voor die neus van Senzo Mchunu, voormalige voorsitter in KwaZulu-Natal weggeraap.

* Die uitslagsommetjies (2 360 stemme vir Magashule en 2 336 vir Mchunu) het volgens sommige mense nie geklop nie, veral omdat daar glo tussen 63 en 68 stemme nie getel is nie.

* Die onbevestigde aantal stemme was in 'n koevert gehou sodat EleXion, die maatskappy wat die verkiesing gereël het, kon nagaan hoekom die afgevaardigdes se name nie op die kiesersrol was nie.

* Dit is toe nooit by die uitslag ingereken nie.

* Gerugte loop dat Mchunu hom na die hof wil wend, maar dat 'n politieke oplossing gesoek word.

* Dinsdag omstreeks 23:30 was die uitslag hieroor steeds onbekend.

Die ANC se konferensie-horlosie is agter weens Maandag se drie groot vertragings.. Foto: Felix Dlangamandla
Die ANC se konferensie-horlosie is agter weens Maandag se drie groot vertragings.. Foto: Felix Dlangamandla

2. Herdruk van 'n stembrief met 80 name

* Die ANC se nasionale uitvoerende komitee is benewens die topses-poste 'n allemintige 80 lede sterk.

* Benoemings vir dié poste is Maandag reeds gedoen en die 80 lede sou Dinsdag aangekondig word, maar die stemmery het Dinsdagaand eers begin.

* Dié vertraging is aanvanklik veroorsaak deur die dispuut oor die verkiesing van die sekretaris-generaal. Maar net toe dit aan die gang kom, is halt geroep oor 'n fout met die stembriewe.

* Nuwe stembriewe is toe gedruk en afgevaardigdes het eers Dinsdag omstreeks 21:00 begin stem.

* Die stemproses sou na verwagting Woensdag tot in die vroeë oggendure duur.

3. Beleidskwessies

* Benewens die verkiesing van nuwe leiers moet die 4 776 afgevaardigdes oor beleidsake stem.

* Afgevaardigdes van elke provinsie is ingedeel in een van nege kommissies wat besluit oor kwessies soos die party se strategie en beplanning, hoe die organisasie moet vernuwe en enige wysigings aan die party se grondwet.

* Hul verslae moes Dinsdag voor middagete voorgelê en dan in geslote sessies bespreek word. 'n Konsepverslag sou dan saamgestel en aan die algemene vergadering voorgelê word.

* Dit kon nog nie gebeur nie weens die NUK-verkiesing wat nog nie afgehandel is nie.

* Alle besluite van die konferensie moet Woensdag finaal bekragtig en verklaar word. Volgens die program sal die nuwe ANC-president om 11:30 die konferensie afsluit, maar dis te betwyfel of alles voor dan afgehandel sal wees.

Bronne: Verslagspan, Netwerk24 en News24

CTA