
Adj.pres. Cyril Ramaphosa, die nuwe ANC-leier, het sy ondersteuners gevra om ter wille van die integriteit van die ANC en sy nasionale konferensie by Nasrec, in Johannesburg, hulle nie tot die hof te wend om die verkiesing om die pos van sekretaris-generaal nietig te verklaar nie.
Hy het sy ondersteuners volgens 'n video-opname wat News24 bekom het, gevra om te aanvaar Ace Magashule, die Vrystaatse premier, het Senzo Mchunu, 'n voormalige premier van KwaZulu-Natal, naelskraap in die verkiesing om dié pos in die ANC se leierskapsverkiesing geklop.
Magashule het Mchunu met 24 stemme geklop.
Van Mchunu - wat in die Ramaphosa-kamp is - se ondersteuners is so ontstoke hieroor dat hulle hul moontlik tot die hof kan wend.
"Nieteenstaande die feit dat (die uitslae) dalk nie is wat ons almal wou gehad het nie, maar (as die dispuut nie polities opgelos word nie) belemmer dit ons om die waardes van ons beweging in te boesem," sê Ramaphosa.
Ons moet die integriteit van die konferensie beskerm.
"Ons moet die integriteit van die konferensie beskerm. Ons moenie toelaat dat die konferensie ontaard in omstredenheid en groot hofgedinge wat die uitslae nietig sal maak nie," het Ramaphosa gesê.
Daar was laat Maandagaand sprake dat Mchunu beplan om hom tot die hof te wend.
Hy het dit ontken.
'n Amptelike aankondiging of Magashule as sekretaris-generaal sal aanbly of nie, word Woensdag verwag.
Supra Mahumapelo, premier van Noordwes, het vroeër Woensdag aan joernaliste gesê die kwessie oor die 68 stemme wat nie in dié verkiesing getel is nie, is deur die leierskap van die ANC opgelos nadat dié tot ná middernag hieroor vergader het.
Luidens 'n dokument wat Netwerk24 gesien het, maar nog nie kon bevestig nie, het drie ANC-lede hulle tot die hof gewend omdat hulle meen daar is met die verkiesing van die ANC se topses ongerymdhede teen hulle en die afgevaardigdes.
Die drie mense op die lys se name is Metse Ramahuba, Vincent Seemola en Rehab Leso.
Die prokureursfirma wie se naam op die dokumente verskyn, kon nie vir kommentaar bereik word nie.
News 24 haal 'n ongeïdentifiseerde bron aan wat sê net 28 van die 68 stemme wat eenkant gehou is, was wettig.
Volgens die bron was daar geen waarborge dat al 28 van dié stemme van Ramaphosa-ondersteuners kom nie.
Die kamp van dr. Nkosazana Dlamini-Zuma het vasgeskop en volgehou dié 68 mense was nie geregtig om te stem nie. Hulle het ook gedreig om aan te dring op 'n nuwe verkiesing vir die topses.
Só iets sou die konferensie laat misluk het.






