Die ANC se topses - waaronder die president en nasionale voorsitter - sal Sondag aangekondig word, het Gwede Mantashe, die sekretaris-generaal, Vrydag bevestig.
Mantashe het met die media gepraat oor die gereedheidsvlak van die ANC se 54ste nasionale konferensie, wat Saterdag amptelik in Nasrec suid van Johannesburg begin.
Hy het ook bevestig die res van die nasionale uitvoerende komitee sal teen Maandag afgehandel wees.
Volgens Mantashe sal die hofuitspraak in die hooggeregshof in Bloemfontein later Vrydag, slegs 'n invloed hê op die 27 lede van die provinsiale uitvoerende komitee (PUK) en nié die 29 takke wat die algemene takvergaderings oor moes hou nie.

Die ANC Vrystaat wag nog om te hoor óf hulle afgevaardigdes na die nasionale konferensie kan stuur.
Ontevrede partylede het hul na die hof gewend om die afgelope naweek se PUK ongeldig te verklaar.
Hulle voer aan die provinsie het 'n hofbevel oortree dat die konferensie nie mag voortgegaan het nie.
Intussen sê Mantashe die party respekteer die hofuitspraak in die Noordwes, wat Vrydagoggend die Bojanala-streekskonferensie ongeldig verklaar het.
Dié groep het die hof gevra om die streek - met sy 40 takke - se algemene vergadering op September 24 ongeldig te verklaar.
Met verwysing na die "Eenheid"-kandidaat wat Mpumalanga-afgevaardigdes op hul stembriefies geskryf het tydens die provinsie se verkiesing, sê Mantashe dié naam sal nie op stembriefies by die nasionale konferensie verskyn nie.
Mpumalanga is steeds diep verdeeld oor watter presidensiële kandidaat hulle steun.
Volgens David Mabuza, die premier en ANC provinsiale voorsitter, is die 223 takke wat nie vir 'n kandidaat gestem het nie, 'n bewys dat die provinsie kandidate steun wat die regerende party kan herenig.
Ten spyte van die onderskeie hofgedinge, is Nkosazana Dlamini-Zuma en adj.pres. Cyril Ramaphosa steeds die twee topkandidate.
Mantashe gee die versekering dat geen afgevaardigde by die skougronde waar die konferensie gehou word, sal kan "inbars" soos sommige gedreig het nie, omdat daar voldoende sekerheidsmaatreëls is.



















