Cyril se kamp verdeeld oor ‘vermiste stemme’

Cyril Ramaphosa, nuutverkose ANC-president, se kamp is erg verdeeld oor die dispuut oor Senzo Mchunu se nederlaag.

'n Leier van 'n provinsie wat Mchunu gesteun het, het hom uitgespreek teen die dispuut oor die 63 "vermiste" stemme en het die res van die Ramaphosa-span aangemoedig om te aanvaar dat Ace Magashule die nuwe sekretaris-generaal is.

"Ons moet aanbeweeg, ons was nie suksesvol nie. Ons moenie baklei oor die uitslag en die risiko loop om 'n chaos te veroorsaak, en onsekerheid in die party te hê nie," sê hy.

Dit kan volgens die leier, wat anoniem wou bly, die konferensie ineen laat stort.

Cyril Ramaphosa, die ANC se nuwe president, word deur 'n verteenwoordiger van die kiesagentskap gelukgewens. Foto: Felix Dlangamandla
Cyril Ramaphosa, die ANC se nuwe president, word deur 'n verteenwoordiger van die kiesagentskap gelukgewens. Foto: Felix Dlangamandla

Die reëlingskomitee van die ANC se konferensie het Dinsdagoggend oor die dispuut vergader. Daar word verwag dat die kwessie op die volgende voltallige vergadering bespreek sal word.

'n Video van die Ramaphosa-koukus wat Dinsdagoggend vergader het, wys 'n leier - glo die adjunkvoorsitter van die ANC in Gauteng, David Makhura - wat vir afgevaardigdes sê hulle moet stry oor die kwessie wanneer dit later in die voltallige vergadering bespreek word.

As die kwessie nie opgelos word nie, kan dit die stemmery vertraag vir die 80 lede van die party se nasionale uitvoerende komitee (NUK) wat na verwagting Dinsdag afgehandel sal word.

Sommige senior ANC-lede van Gauteng het gesê die leier in die video is Makhura, wat instaan vir die provinsiale voorsitter, Paul Mashatile, nadat dié tot tesourier-generaal verkies is.

Die leier sê vir die teenwoordig Maandag se resultate is aangekondig voordat die reëlingskomitee besluit het of dié afgevaardigdes geldig is of nie, en die finale getal het nie dié stemme ingesluit wat in 'n koevert gehou is nie.

Die spreker beweer vyf provinsies wat Ramaphosa steun, het die kwessie in die reëlingskomitee geopper.

Mchunu se ondersteuners het 'n dispuut verklaar, en daarop aangedring dat die 63 stemme "wat in kwarantyn geplaas is" by die finale getal gevoeg word.

'n Ander bron het egter gesê die stemme is van gediskwalifiseerde afgevaardigdes wat uit die konferensie gegooi is nadat hulle akkreditasiekaarte gegee is.

"Hulle was nie op die kiesersrol nie, want hulle is gediskwalifiseer. Toe hulle ten tyde van die verifiëring uitgegooi is, het hulle reeds hul kaarte ontvang, maar hulle het geweier om dit terug te gee."

Hulle was nie op die kiesersrol nie, want hulle is gediskwalifiseer.

Hy het bygevoeg dat die onafhanklike kiesagentskap wat die proses bestuur, hulle toegelaat het om te stem, want hulle het daarop aangedring, ondanks die feit dat hulle nie op die kiesersrol verskyn het nie.

Hulle is toe by die finale telling uitgesluit, want hulle was "onwettig" by die konferensie.

Hy sê die aanvanklike getal van 68 stemme het verwys na afgevaardigdes wat nie vir die algehele stemmery opgedaag het nie.

Die ANC het 4 776 geakkrediteer, maar net 4 708 het gestem.

Magashule het met 2 360 stemme gewen, terwyl Mchunu 2 336 stemme ontvang het.

Dr. Nkosazana Dlamini-Zuma se kamp, wat die pos om die presidentskap verloor het, het gedreig dat as die stemme vir die posisie van die sekretaris-generaal oorgetel word, hulle daarop sal aandring dat daar van voor af vir die hele topses gestem moet word.

Die ANC se voorsitter in Noordwes, Supra Mahumapelo, sê die dispuut kan die beeld van die party skade berokken.

"Sekere goed moet jy aanvaar, jy moet daarmee saamleef in die ANC, selfs as jy ontevrede of ongemaklik met sekere posisies is," sê Mahumapelo.

Mahlatse Mahlase, News24

SPELETJIES VANDAG

CTA