Kompromis by Nasrec kan SA benadeel

Theuns Eloff.
Theuns Eloff. (Theana Calitz)

Die ANC se nuwe president sal waarskynlik ter wille van eenheid gedwing word om iemand van die "ander kant" as adjunk in te sluit. En dit voorspel niks goed vir die land én die ANC nie, skryf Theuns Eloff.

Met Nasrec 2017 se konferensie nou slegs dae weg, is dit steeds nie duidelik wie teen 20 Desember die nuwe ANC-president sal wees nie.

Ná die afsluiting van die benoemings deur provinsies en takke, is daar twee duidelike voorlopers, dr. Nkosazana Dlamini-Zuma en Cyril Ramaphosa.

In hierdie stadium (met 'n hele aantal takke wat nog kandidate moet benoem of in hofsake gewikkel is), het geen ander kandidaat die minimum persentasie van 15% van takbenoemings vir die presidentskap ontvang nie.

Dit beteken dat Zweli Mkhize en Lindiwe Sisulu slegs as kandidate benoem kan word as hulle 25% steun van die konferensiegangers tydens die verrigtinge kan mobiliseer. Dit is onwaarskynlik.

Wat die adjunkpresidentskap betref, het 'n aantal takke en provinsies wel vir Mkhize en Sisulu benoem.

Dan is die sogenaamde "koningmaker" van Mpumalanga, David Mabuza, deur KwaZulu-Natal as adjunkpresident onder Dlamini-Zuma benoem.

Sal Cyril Ramaphosa ter wille van eenheid in die ANC gedwing word om 'n adjunk van die "ander kant" aan te stel as hy die ANC se nuwe leier word? Foto: Reuters
Sal Cyril Ramaphosa ter wille van eenheid in die ANC gedwing word om 'n adjunk van die "ander kant" aan te stel as hy die ANC se nuwe leier word? Foto: Reuters

Ramaphosa kry straks nie vir Pandor as adjudant

Dit is egter nie 'n uitgemaakte saak dat wanneer 'n presidentskandidaat die stemming wen, daardie kandidaat se voorkeurkeuse wel adjunk sal word nie. Die rede hiervoor is dat daar een groot verandering in die proses van die verkiesingskonferensie in 2017 is.

Daar word nie meer vir 'n kandidatelys ("slate") gestem nie. In die verlede is daar 'n lys saamgestel wat name vir die "topses"-amptenare bevat het: die president, die adjunkpresident, die voorsitter, die sekretaris-generaal, die tesourie-generaal en die adjunk sekretaris-generaal.

In Mangaung is hierdie topses byvoorbeeld in een stemming gelyk verkies, met Jacob Zuma as president.

Vir Nasrec 2017 is besluit dat daar vir elke amp van die topses afsonderlik gestem gaan word. Dit is 'n poging om die polarisasie wat kandidatelyste kan meebring, uit te skakel. Die gevolge van hierdie besluit is groot.

Cyril Ramaphosa het byvoorbeeld etlike weke gelede vir Naledi Pandor as adjunkpresident op sy kandidatelys geplaas. Sy is egter nie deur genoeg takke benoem nie, en sal van die vloer af met 25% steun genomineer moet word om 'n kandidaat te wees.

Dit is onwaarskynlik.

Al sou Ramaphosa as ANC-president verkies word, is dit dus nie noodwendig dat Pandor as sy voorkeurkandidaat as adjunkpresident verkies gaan word nie. Dit is waarskynliker dat wie ook al as president verkies gaan word, met die "eenheidstrewe" gekonfronteer gaan word.

Dit beteken dat wie ook al die presidentskap wen, onder druk gaan wees om die eenheid in die ANC te bewaar en iemand van die "ander kant" as adjunk in te sluit. Dieselfde is waar van die samestelling van die topses. En hierdie druk sal selfs groter word as die voorstel aanvaar word dat die topses na agt of selfs nege vergroot moet word, met nog 'n adjunkpresident en nog een of selfs twee adjunk sekretarisse-generaal.

Hoe gaan dr. Nkosazana Dlamini-Zuma teen pres. Jacob Zuma optree as sy die ANC se nuwe leier word? Foto: Reuters
Hoe gaan dr. Nkosazana Dlamini-Zuma teen pres. Jacob Zuma optree as sy die ANC se nuwe leier word? Foto: Reuters

Mabuza dalk adjunk as Dlamini-Zuma wen

As 'n mens verby Desember 2017 kyk, sal hierdie feit 'n groot uitwerking hê op wat gaan gebeur.

Daar is vier scenario's.

Die eerste is dat Dlamini-Zuma verkies word en dit regkry om die meeste druk tot kompromie te weerstaan omdat haar steun sterk genoeg is.

Die tweede is dat Ramaphosa verkies word en ook die meeste van die druk tot 'n kompromie weerstaan omdat sy steun sterk genoeg is.

Die derde is dat Dlamini-Zuma wen, maar 'n topses kry wat eenheid moet bewerkstellig. En die vierde is dat dit met Ramaphosa gebeur.

'n Dlamini-Zuma-oorwinning sonder druk tot kompromie kan Mabuza as adjunk sien, met 'n hele rits Zuma-ondersteuners in die res van die topses. Mkhize het hier 'n buitekans. Volgens Dlamini-Zuma se verkiesingsmanifes sal radikale ekonomiese transformasie (RET) die eerste item op haar agenda wees. Dit sal waarskynlik gepaardgaan met verdere rassepolarisasie en verrassiging van die Suid-Afrikaanse samelewing.

Gegewe haar magsbasis, sal sy moeilik daadwerklik teen korrupsie en staatskaping kan optree. Die gevolg sal 'n verdere verswakking in die ekonomie en 'n finale afgradering van die land se kredietstatus wees. Die rand en Johannesburgse Aandelebeurs sal onmiddellik negatief reageer.

Daar is 'n buitekans dat Dlamini-Zuma haar eie pad sal inslaan, weg van dié van haar gewese man af - maar dit is skraal. Wat wel kan gebeur, is dat sy hom amnestie kan gee en vroeër as Mei 2019 na Nkandla kan herontplooi, omdat sy soveel afstand moontlik tussen sy gesig as leier en die algemene verkiesing van Mei 2019 wil kry.

Daar is in hierdie scenario die sterkste kans vir 'n skeuring of ten minste 'n groot wegbreek van die ANC af.

Wat gebeur as Ramaphosa wen?

'n Ramaphosa-oorwinning sonder druk tot kompromie kan Sisulu as adjunk sien, met Mkhize, Gwede Mantashe en Paul Mashatile ook in die topses. Die gevolg sal 'n hernieude klem op ekonomiese groei ("inklusiewe groei"), en skoon en verantwoordbare regering wees.

Die Johannesburgse aandelebeurs en die rand sal matig positief reageer, omdat die meeste handelaars reeds 'n Ramaphosa-oorwinning verreken het.

Die Johannesburgse aandelebeurs en die rand sal matig positief reageer as Ramaphosa wen.

—  Theuns Eloff

Ramaphosa sal in hierdie scenario inisiatiewe loods om korrupsie en staatskaping te beveg en diegene wat hulle daaraan skuldig gemaak het of nog skuldig maak, aan die pen te laat ry. Dit sluit leefstyloudits en 'n sterker ANC-integriteitskommissie in.

Ramaphosa sal ook eenheid en versoening binne die ANC beklemtoon, maar nie ten koste van die geveg teen staatskaping en korrupsie nie. Hoewel die land se kredietstatus nie dadelik opgegradeer sal word nie, sal daar nie verdere afgraderings wees nie.

Die kanse vir 'n skeuring in die ANC is in hierdie scenario kleiner, aangesien die kripvreters sal hoop om bloot voort te gaan onder die nuwe bewind. Zuma sal waarskynlik so vroeg as middel 2018 herontplooi word, met die kanse van volle amnestie skraal, maar dalk 'n simboliese herontplooiing na Nkandla.

Scenario drie en vier het gemeen dat hulle die eenheid in die ANC hoër stel as die voorgenome beleidsrigtings van die twee kandidate. Die gebiede waar kompromieë gevind sal moet word, sluit in ekonomiese beleid, Zuma se herontplooiing en amnestie, rassepolarisasie en optrede teen korrupsie en staatskaping.

In 'n ANC (en regering) wat deur Dlamini-Zuma gelei word, sal hierdie kompromieë uit die aard van die saak sterker deur haar sienings beïnvloed word, terwyl sagte toegewings (soos beperkte optrede teen korrupsie) gemaak sal word. Dit sal egter nie optrede teen Zuma en sy binnekring insluit nie.

David Mabuza, premier van Mpumalanga, is dalk die "koningmaker" in die ANC se leierskapstryd. Foto: Theana Breugem
David Mabuza, premier van Mpumalanga, is dalk die "koningmaker" in die ANC se leierskapstryd. Foto: Theana Breugem

Ekonomie sal ly onder kompromis-scenario

Zuma kan 'n meer beperkte amnestie kry as wat andersins die geval sou wees. Wat ekonomiese beleid betref, sal daar nie veel verander nie. Die retoriek van RET sal bly, met die tesourie wat manhaftig sal probeer om markverwante beleide te volg, maar sonder veel sukses.

Kortom, selfs in 'n kompromis-scenario sal die ekonomie verder agteruitgaan.

In 'n ANC en regering met Ramaphosa as leier, sal die kompromieë nader aan sy tienpuntplan beweeg, maar op kritieke punte tekort skiet. Die grootste uitdaging sal wees oor hoe om kragdadig teen korrupsie en staatskaping op te tree en tegelykertyd eenheid en versoening in die ANC te probeer bevorder.

Ekonomiese beleid kan (soos die afgelope klompie jare) tussen die twee stoele van sosialisme en 'n markekonomie deurval. 'n Leefstyloudit sal moeilik aan die Zuma-kamp verkoop word.

Kortom, in enige van die kompromis-scenario's sal Suid-Afrika die slagoffer wees van die ANC se strewe na eenheid bo alles. Dit sal egter nie die sukses en selfs oorlewing van die ANC waarborg nie.

Daar is stoere ANC-lede wat meen die party is net té verdeeld en té verrot om oor mediumtermyn te herstel en te oorleef. Ander meen die ANC kan en is besig om op sigself te korrigeer. Waar die waarheid lê, sal eers ná 20 Desember begin duidelik word. Dit hang (ongelukkig) alles af van wie as president verkies gaan word.

* Dr. Eloff is uitvoerende direkteur van die FW de Klerk-stigting en 'n trotse oud-Puk.

SPELETJIES VANDAG

CTA