Die spanning tussen die media en veiligheidspersoneel by die Nasrec Ekspo-sentrum, waar die ANC sy 54ste nasionale konferensie hou, het Dinsdagmiddag hoog geloop.
Eers het 'n groep joernaliste gesamentlik besluit om die besigtigingstoer van adj.pres. Cyril Ramaphosa, nuutverkose ANC-president, te boikot omdat hulle nie toegelaat is om die sowat 500 m na waar Ramaphosa was, te loop nie. Die kortpad loop deur die afgesperde gebied wat joernaliste met 'n draadheining weghou van afgevaardigdes.
Die organiseerders het bes gegee toe joernaliste terugkeer na die mediasentrum, en toegelaat dat hulle verby die draadversperrings kan beweeg.
Die organiseerders wou dat joernaliste wag vir 'n pendelbussie, maar weens die groot groep sou dit tot twee uur neem om hulle heen en weer te vervoer.
Teen laatmiddag het joernaliste begin mor omdat hulle so lank in die son moes sit en wag terwyl Ramaphosa binne die saal waar verskeie ondernemings uitstalruimtes gehad het, rondgeloop het. Slegs fotograwe kon saam ingaan.
Die Bloomberg-joernalis Sam Mkokeli, wat ook voorsitter is van die Suid-Afrikaanse nasionale redakteursforum (Sanef) se subkomitee vir mediavryheid, se navraag oor die swak behandeling omdat hulle langer as 'n uur buite moes wag, is by sekuriteit geopper.
Dié onderonsie het daarop uitgeloop dat Mkokeli sy akkreditasie verloor het.

Katy Katopodis, ondervoorsitter van Sanef, het gesê hulle is op pad na Mkokeli en sal later terugvoer gee.
Zizi Kodwa van die ANC het gesê hulle is besig om die kwessie te hanteer.
Intussen het Mora Mpiti ya Sekake op die interne verspreidingslys aan die media wat die konferensie bywoon, gesê hy is verantwoordelik vir sekuriteit en gevra vir die naam van die betrokke joernalis sodat die saak opgevolg kan word.
Hy het om verskoning gevra as dit lyk of hulle onnodig streng is met die media.
Ander joernaliste het ook vertel hoe hulle hardhandig behandel is, soos Lester Kiewit wat glo in die maag geslaan is deur 'n lid van die BBP-beskermingsdiens.











