‘Mense moet staatskaping vergewe, nes apartheid’

Die president van die ANC se vroueliga, Bathabile Dlamini, sê Suid-Afrikaners moet net so vergewensgesind wees oor staatskaping soos wat hulle was oor apartheid.

Dlamini het Sondag by die ANC se nasionale konferensie in Nasrec met joernaliste gepraat oor die rol van die liga om die finale lys stemgeregtigdes te bepaal.

Toe sy gevra word oor die feit dat mense wat by die #GuptaEmails betrek word, soos Carl Niehaus en Ace Magashule, provinsiale ANC-leier in die Vrystaat, skynbaar skotvry daarvan afkom, het Dlamini gesê landsburgers is besig om skynheilig te wees.

Maar 'n slim persoon het daardie e-posse gelek. Gaan ons as Suid-Afrikaners so lewe?

"Waarom is Suid-Afrikaners nie vergewensgesind nie? Hulle wil altyd mense klassifiseer. Hoekom sê hulle nie ‘kom ons luister vir 'n verandering na Carl en gee hom die geleentheid om te verander' nie."

Suid-Afrikaners is nie konsekwent in hul verontwaardiging nie, beweer sy.

"Daar is mense in die land wat kan doen wat hulle wil en ons bly stil daaroor. En daar is mense wat ons fyn dophou en nooit die kans gun om te herstel nie.

"As ons apartheid kon vergewe, hoekom is dit so moeilik om iemand anders te vergewe en seker te maak daar word regstellende stappe gedoen oor sommige kwessies?"

Dlamini het gesê die publiek en die media moet diegene wat in die e-posse genoem word, genoeg tyd gee om te verduidelik.

"Maar ook Ace is reeds lankal 'n lid van die ANC. Ek dink ons wil mense oordeel. Niemand het al vir Ace gekontak en gevra om daardie ding te verduidelik nie.

"Maar 'n slim persoon het daardie e-posse gelek. Gaan ons as Suid-Afrikaners so lewe?

"Waar begin staatskaping? Is hulle (die Guptas) die enigstes wat betrokke is daarby? Hulle is nie," het sy gesê.

"Suid-Afrikaners moet verander en as ons nie nou verander nie, gaan ons kinders ons vra waarom ons niks gedoen het nie." - News24

SPELETJIES VANDAG

CTA