Anc Kongres

‘Vermiste stemme’ hou eers feestyd

ANC-verteenwoordigers en die regsverteenwoordigers van die afgevaardiges van die 68 "vermiste stemme" vroeër by die ANC se 54ste nasionale konferensie, het besluit om eers volgende jaar te vergader.

Dit volg ná hul vergadering wat Vrydag by Luthuli-huis, die ANC se hoofkantoor in Johannesburg, gehou is.

Dexter Selepe van Selepe Sekele-prokureurs verteenwoordig die groep ANC-afgevaardigdes van Limpopo en KwaZulu-Natal wat deel is van die 68 stemme waaroor omstredenheid ontstaan het.

Hy sê hulle het besluit om eers in Januarie weer te vergader sodat hulle met hul kliënte kan raadpleeg en hul huiswerk deeglik doen.

Volgens hom tree die regsfirma nie namens Senzo Mchunu, 'n voormalige premier van KwaZulu-Natal, op nie. Mchunu het met 24 stemme teen Ace Magashule, die Vrystaatse premier, verloor in die stryd om die posisie van sekretaris-generaal van die ANC.

Selepe het vroeër gesê die saak kan in die hof eindig, sou die partye nie tot 'n vergelyk kom nie.

Volgens hom was sy kliënte nie op die kieserslys nie, hoewel hulle gemagtig was om te stem. "Hulle het spesiale stembriewe gekry, wat in 'n ‘kwarantyn' geplaas is en wat dan later saam met die res van die stemme getel sou word."

Die afgevaardiges het hul kommer gelug dat Magashule se verkiesing onreëlmatig was, met net 'n verskil van 24 stemme tussen die kandidate.

Adj.pres. Cyril Ramaphosa, nuutverkose ANC-president, het Woensdag sy ondersteuners gevra om ter wille van die integriteit van die ANC en sy 54ste nasionale konferensie by Nasrec in Johannesburg hul hofplanne te laat vaar.

Die meerderheid van die vermiste stemme is glo van takke wat Mchunu ondersteun.

Selepe sê die presiese datum vir die volgende vergadering is nog nie vasgestel nie "omdat die ANC in Januarie besig is".

Hy sê hulle sal wel ná die Januarie 8-boodskap vergader.

Zizi Kodwa, ANC-woordvoerder, kon nie vir kommentaar bereik word nie.

Reneilwe Dhludhlu