Leef

Kat-uit-die-sak: Cats-sterre deel mooiste herinneringe

“The Naming of Cats”, die openingstoneel van die blyspel.
“The Naming of Cats”, die openingstoneel van die blyspel. (Foto: Verskaf)

Cats se geliefde Jellicle-katte miaau binnekort weer in Kaapstad en Johannesburg op die planke.

“Ons is opgewonde om Cats terug te bring na Suid-Afrika,” sê die impresario Pieter Toerien, wat al vele internasionale musiekblyspele op plaaslike verhoë laat skitter het, insluitend Andrew Lloyd Webber se ewe ikoniese Joseph and the Amazing Technicolour Dreamcoat en The Phantom of the Opera.

Die Neil Simon-teater op Broadway in New York.
Die Neil Simon-teater op Broadway in New York. (Getty Images)

’n Bedremmelde ou Grizabella, eens die glam kat, sing weer in die lied “Memory” haar hart uit . . .

Memory, all alone in the moonlight

I can dream of the old days, life was beautiful then

I remember the time I knew what happiness was

Let the memory live again

In 1989 in Londen, kort ná my gap-jaar as au pair in Duitsland, staan ek en vele ander hoopvolles in ’n lang ry vir goedkoop kaartjies vir Cats.

En sowaar, ek dink steeds terug aan dié blyspel met die guitige, soepel, musikale katte as een van my grootste hoogtepunte – een wat ek daarna plaaslik ook nog ’n paar keer kon beleef.

Nou is die magic van die oorspronklike produksie weer hier. Met die stel- en kostuumontwerp, choreografie en regie onderskeidelik deur John Napier, Gillian Lynne en Trevor Nunn. Moontlik gemaak deur Pieter Toerien en GWB Entertainment, in samewerking met The Really Useful Group en Kaapstad Opera.

Cats se geskiedenis is so kleurryk soos dié van sy katte. Toe die musiekblyspel in 1981 die West End in Londen met ’n knal tref, maak Grizabella haar debuut met Elaine Paige in die rol. Sy moes dame Judi Dench vier dae voor die opening vervang nadat Dench ’n haksening geskeur het.

Christine Cornish Smith as die karakter Bombalurina, Tyler Hanes as Rum Tum Tugger en Andy Huntington Jones as Munkustrap agter die skerms afgeneem saam met die Suid-Afrikaans gebore aktrise Charlize Theron. Dit was tydens ’n 2017-opvoering op Broadway.
Christine Cornish Smith as die karakter Bombalurina, Tyler Hanes as Rum Tum Tugger en Andy Huntington Jones as Munkustrap agter die skerms afgeneem saam met die Suid-Afrikaans gebore aktrise Charlize Theron. Dit was tydens ’n 2017-opvoering op Broadway. (Getty Images)

Grizabella smag op haar oudag weer na die Jellicle-katte se aanvaarding. Hulle wil egter niks met die verwaarloosde ou kat te doen hê nie. Totdat die jongste, Jemima, haar poot uitreik.

Daarna begin die een ná die ander goedkeurend spin en lei hulle Grizabella uiteindelik na hul wyse ou leier, Old Deuteronomy.

Grizabella se geluksbeker loop oor.

Kerstyd is ’n tyd van refleksie

Óns dink ook terug. En dis noodsaaklik.

“Goeie en minder goeie herinneringe bring groei,” sê Karen Moyle, ’n lewensafrigter en berader van Yzerfontein.

“Om na ou foto’s, dagboeke of briewe te kyk bring dikwels bevryding en help om ‘koffers wat nog in die onderbewussyn gestoor is’ uit te pak.

“As jy vasklou aan herinneringe wat emosies soos bitterheid en woede bring, kan dit jou siek maak. Die liggaam kan dan nie ontslae raak van onaangename gedagtes nie,” glo sy.

Wanneer ons van toksiese gedagtes ontslae raak, dán gebeur die magic.

In 2006 het die musiekwetenskaplike Jessica Sternfeld “Memory” as een van die suksesvolste treffers uit ’n musiekblyspel nóg beskryf.

’n Rits divas, soos Leona Lewis, Sarah Brightman, Nicole Scherzinger en Delta Goodrem, het dit al gesing.

Betty Buckley het in 1983 ’n Tony-toekenning vir haar spel as Grizabella op Broadway ontvang.

Teen 2002, 21 jaar nadat dit in die oorspronklike speelvak geopen het, was Cats al 9 000 keer in die West End, 7 500 keer op Broadway en 10 000 keer in Japan opgevoer.

Cats is ook in 23 tale vertaal, in 54 lande opgevoer en deur 77 miljoen teatergangers wêreldwyd beleef.

Min sou T.S. Eliot kon raai sy Old Possum’s Book of Practical Cats, ’n bundel speelse gedigte wat in 1939 die lig gesien het, sou een van Lloyd Webber se gewildste musiekblyspele inspireer.

En Einstein se wyse woorde tref: “Daar is twee maniere om die ellende van die lewe te ontkom: musiek en katte.”

Mr. Mistoffelees, nog ’n kater-karakter.
Mr. Mistoffelees, nog ’n kater-karakter. (Foto: Verskaf)

* ‘Cats’ s vanaf 10 Desember tot 11 Januarie by die Kunstekaap en vanaf 17 Januarie tot 22 Februarie by die Teatro Montecasino in Johannesburg.

Bykomende bronneartscape.co.za, catsthemusical.com, Wikipedia

Die Katte se Kers-herinneringe

Ons eie spelers en opkomende talent, van wie sommige al teaterpryse ontvang het, vertolk die kat-rolle in die plaaslike produksie. Ons vra hulle oor hul feestyd-herinneringe

Dylan Janse van Rensburg (22): Rum Tum Tugger, die speelse rock star

Tradisionele Kerskoekies. Dís sy beste herinnering.

“My tante het jaarliks wat soos miljoene voel, gebak. Elke koekie het anders gelyk, propvol suiker-lekkerte. My kwota was vyf per dag, anders het ek rondgedans van die suiker en kon ek nie saans slaap nie.”

Dikwels sou hy en sy ouma skelmpies ’n koekie of twee gaps. Verlede jaar het hy en sy pêl Sasha Duffy sélf koekies gebak.

“Ek’t hompe rou koekiedeeg en suiker verorber. Dit was goed om self deel te raak van die tradisie. Kerskoekies is deel van ons familie se samesyn, iets waarna ons jaarliks uitsien.

“My ouers het ons geleer Kersfees behels meer as die geskenke. Ons gaan kerk toe, maak jaarliks nuwe herinneringe.

“Eintlik is dit só moeilik om een herinnering te kies. Dis vir seker my gunstelingtyd van die jaar.”

Ché-Jean Jupp (21): Munkustrap, die verteller en “voog”

“Verlede Kersfees, my laaste saam met my groot mentor, my oupa Patrick Rhategan, is een van my spesiaalste herinneringe. Hy was briljant, my vertroueling, hy’t my opstelle nagesien, ons het eindelose gesprekke oor musiek en filosofie gevoer. Hy was wys.”

Sy oupa was ’n tenoor en Ché-Jean reken hy het sy talent by hom geërf.

“Hy was een van my grootste ondersteuners.”

Oupa Patrick het na Ché-Jean in The Sound of Music kom kyk, kort voor sy dood op 83.

“Oupa se gunstelinglied was ‘Climb Ev’ry Mountain’. Ná sy dood, wanneer Janelle Visagie dit as die ‘moederowerste’ gesing het, wou ek net huil agter die verhoog.

“Ek mis hom nog elke dag.”

Ché-Jean eer sy oupa, ouma Jean en ma, Beverley, vir die Challenger-kindersorgsentrum wat hulle dertig jaar gelede in Kaapstad begin het.

Tatum Coleman (21): Bombalurina, die soepel gemmer-“koningin”

Kerstyd is familietyd by Bloubergstrand.

“My ma, Tracy, het nog altyd spesiale herinneringe vir my en my twee sussies, Markenna (24) en Reece (20), geskep. Kerskoekies en gemmerbroodhuis-wedstryde waar ons drie ons beste uithaal, koffie in die bed Kersoggend, ’n skouspelagtige boom, geskenke wat soos kunswerke toegedraai is.

“Selfs die honde, Charlie en Lily, kry geskenke.”

Ná die uitdeel van geskenke gaan swem hulle in die see, dikwels saam met vriende, en daarna maak almal saam kos – ’n koue middagmaal.

“My ma is een van drie kinders en my pa, Ian, een van ses. Stel jou voor al die niggies en nefies, die uitgebreide familie, al die geselse, die ‘opvang’, want mens sien mekaar nie so gereeld gedurende die jaar nie. Dis ’n vrolike Kersmaal, gehalte-kuiertyd.”

Scarlett Pay (21): Jemima, die idealistiese jong kater

“Ek sal nooit vergeet hoe spookagtig stil die paaie op Kersdag 2021 – in die Covid-tyd – was met ons sloertoer na Potchefstroom nie.

“Ons poedel is kort tevore dood en ons harte was gebreek. ’n Lieflike egpaar van Potchefstroom het ’n klein poedel vir ons gehad, maar ons moes haar by hulle kom haal. Hulle wou nie die baba-hondjie per lug vervoer nie.”

Sy en haar ouers het deur sinkgate en donderstorms heen al die pad van die Kaap gery na die gasvrye mense in Potchefstroom, waar Bonnie, hul nuwe bondel vreugde, hulle verwelkom het.

Bonnie was donssag en het hul harte dadelik verower.

“Op pad terug oornag ons toe by ’n ou gastehuis in die Karoo met lang gange, beskuit en koffie, helder sterre, en Bonnie wat onder die bed slaap. Dit was die perfekte Kersgeskenk.”

SARIE se kat-liefhebbers onthou . . .

Riette Rust (joernalis)

Riette Rust
Riette Rust (Foto: Verskaf)

Ek is ses. My pa sien my nie. Hy maak die krakerige kasdeur versigtig oop, skink iets sterks. Dis sesuur die oggend.

Die blink van Kersvakansies op Hermanus verflou gou, dan tel hy altyd weer die glas op. Rehabilitasie, vrede, hoop, teleurstelling, die patroon van my kinderjare.

Ek trou met JD. Kerstyd is hy ’n opgewonde seuntjie. Hoekom hou jý dan nie van tinsel nie?

Hy verpes my met Mariah Carey-liedjies. JD word siek, kan nie meer Kersmusiek hoor nie. Toe eis depressie sy lewe. Oukersdag daag sy houtkissie met as op.

Die kinders kom versier steeds die boom – vir my en hul vriende wat Kersdag ouerloos is.

“Pappa wou nie hê jy moet elke Kersfees omhuil nie.”

Tjeers op JD! All I want for Christmas is you.

Die gesamentlike kokery is ’n produksie. ’n “Spreadsheet” dui die oggendroetine aan. Tuisgemaakte gnocchi, krakerige gammon, sappige (sowaar!) kalkoen en Ottolenghi se groentegeregte vir ete.

“I want to be adopted,” sê een van die kinders se vriende toe hy my lemon meringue proe.

Stil huldig ek my pa. Tien jaar voor sy dood het hy sy glas finaal neergesit.

Eldaleen Hugo (joernalis)

Eldaleen Hugo
Eldaleen Hugo (Foto: Verskaf)

Hoor ek ’n Mozart-klavierkonsert, is ek saam met my boeties agter in die motor deurnag op pad na die seehuis op Nature’s Valley vir ons Kersvakansie.

Die klanke van dié hemelse musiek het ons vier kinders deur die Karoo aan die slaap gesus. Maar eers het ek met my kop teen die venster opgekyk om die Suiderkruis en Die Drie Konings te probeer eien.

Die Melkweg het my pa ook aan ons uitgewys. Dié het my egter verwar, hoewel ek gemaak het of ek verstaan. Ek kon g’n beduidenis van melk sien nie, maar wis nog nie van die gode Zeus en Hera en die oorsprong van die Melkweg se naam uit die Griekse mitologie nie . . .

Kort duskant George, met die tekens van dagbreek, vra ons: “Hoe ver nóg?” Dís wanneer ons vensters kon oopdraai, die bekende geur van wilde knoffel in die Suidoos-Kaap ingewaai het . . .

’n Tyd van geborgenheid, toe so baie moontlik was, als so in orde was in my klein wêreld.

Marguerite van Wyk (joernalis)

Marguarite van Wyk
Marguarite van Wyk (Foto: Verskaf)

Als is anders. Mamma sit-lê in ’n hospitaalbed in hul kamer tuis. Sy en Pappa klink ’n glasie witwyn, en ek borrelwater.

“Gesondheid.”

Dis Oukersaand, 2021, Mamma se voorlaaste Kersfees. Op die stoep kwetter die voëls. Sy luister verwonderd Kersmusiek.

“Jammer, julle, net die versorger kan my in die rolstoel kry.”

Die versorger is by haar mense.Ons streel haar hande, ryspapierfyn met pers reliëf-are. ’n Vanieljekers brand.

“Stille nag, heilige nag.”

Ek sien haar nou nog, pêrelkruisie teen die nek.

Ek, sy en Pappa geniet die hoenderpastei, rys en slaai. Sy pik-pik later aan Willie Strauss se Kerskoek wat ek via PostNet bestel het.

“Dis hemels.”

Mamma se onthou was vinnig besig om te gaan.

“Jy’s my veilige plek,” sê sy vir Pappa.

Demensie beroof hom ook van haar, sý veilige plek. Om nege trek ons die deur toe.

Daardie Kersfees was ’n spikkel in die Ewigheid. Geen geld kan dit koop – of weer vind – nie. Haar laaste Kersfees is die hele familie om die Kerstafel – háár grootste geskenk.

Marzanne Schoeman (kosskrywer)

Marzanne Schoeman
Marzanne Schoeman (Foto: Verskaf)

Kersfees is . . . koffie met kondensmelk om die houttafel in die kombuis en die grys kat wat aan my voete spin. Dis tannie Pierina se pandoro-koek in lae gesny, gevul met karamel en Nutella, afgerond met vars kersies.

Kersfees is 40 grade Celsius op Mariental, waar my pa mielies stroop in die hittige somerson terwyl die res van die land by die see is.

Kersfees is ’n langtafel met ’n kers wat krom trek van die hitte, dis kleintyd se lapsakke met Ma se handgestikte beertjies op die voorkant.

Kerstyd is suikerkoekies in blikke, dis die stilte van die vlakte, maar ook die stilte van die stal, die goud, die wierook en mirre, die vryheid wat die Herder bring.

Kersfees is die feesmaal van lamskenkels en Ouma se koekstruif en die salige stilte ná die middagmaal. Kersfees is nie Kersfees sonder die middagslapie nie.

CTA