Al die Vrystaatse ANC-tak-afgevaardigdes behalwe dié van 14 takke mag wel die nasionale verkiesingskonferensie van die ANC die naweek by Nasrec in Johannesburg bywoon, het 'n volbank van die Vrystaatse hooggeregshof Vrydag beslis.
In die uitspraak wat wenners na beide kante gelaat het, is die ANC se provinsiale konferensie in Parys die afgelope naweek as onwettig en nietig verklaar.
Regterpresident Mahube Molemela het in haar uitspraak gesê om die afgevaardigdes wat op onwettige takvergaderings aangewys is, te verbied om die nasionale konferensie by te woon, sal hul grondwetlike regte aantas.

Omdat alle besluite op die provinsiale konferensie in Parys nietig verklaar is, is ook die aanwysing van die nuwe provinsiale uitvoerende komitee (PUK) met die premier, Ace Magashule, as leier ook nietig verklaar.
Dit kan beteken dat die vorige PUK, waarvan Magashule ook die voorsitter is, die Vrystaat saam met die afgevaardigdes op die nasionale konferensie sal kan verteenwoordig.
Die volbank het ook die dringende versoeke oor minagting van die hof van die hand gewys.
Die uitsluiting van die 14 takke kan meebring dat minder as 20 van die 403 afgevaardigdes van die Vrystaat nié die nasionale konferensie kan bywoon nie.
Hierdie kan 'n oorwinning vir Nkosazana Dlamini-Zuma beteken omdat die Vrystaat reeds steun aan haar as nasionale leier van die ANC toegesê het en feitlik al die afgevaardigdes die naweek die konferensie kan bywoon.
Regters Fouché Jordaan en Celéste Reinders het met die uitspraak saamgestem.
Dit is met 'n groot gejuig buite die hof begroet.



















