Modellering voorspel die vyfde vlaag van die Covid-19-pandemie kan minder skade aanrig as enige van die vorige vlae.
Dit terwyl kenners meen dat "heeltemal te min" Suid-Afrikaners tot dusver ingeënt is.
Die vyfde vlaag word in Mei verwag.
Prof. Bruce Mellado, hoofmodelleerder van die Gautengse Covid-19-bevelsraad, sê al die modelle toon dat die vyfde vlaag "nie so katastrofies" sal wees soos die voriges nie.
Hy waarsku egter dat die voorspellings op die huidige toestande gegrond is.
"Dit kan 'n heel ander prentjie wees as ons 'n variant kry wat aansteekliker en dodeliker is," sê Mellado.
Hy sê die aanpassing van die inperkingsregulasies is om 'n goeie balans tussen politieke, ekonomiese en wetenskaplike faktore te vind.
"Daar sou veel meer sterftes gewees het as dit nie vir die inperkings was nie."
Volgens hom was die aanvanklike voorspelling dat 500 000 tot 1 miljoen mense sou sterf, "maar weens die inperkings was daar plek in hospitale om mense te behandel. As jy egter na die oormaatsterftes kyk, was ons nie te ver uit nie."
Dit kan 'n heel ander prentjie wees as ons 'n variant kry wat aansteekliker en dodeliker is.
Die Nasionale Instituut van Oordraagbare Siektes (Nios) het al gesê die oormaatsterftes is direk of indirek aan Covid-19 verwant. Teen Februarie 2021 is 135 000 oormaatsterftes deur die Nios aangeteken. Van Mei 2021 tot Februarie 2022 is nog 302 245 aangeteken.
Die amptelike sterftesyfer was teen Woensdag 99 893. Die totale amptelike en nie-amptelike sterftesyfer staan tans op 537 138.
Prof. Glenda Gray, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad, sê inenting is nou die grootse wapen om sterftes te voorkom, maar "die pas van inenting is nog baie laag".
Volgens haar moet mense se vrese besweer word en "ons moet aanhou om te probeer om mense te oortuig deur vir hulle te wys dat inenting gewone mense help".
Sy sê inenting is ook belangrik om mense tydens die vyfde vlaag te beskerm.
Teen Woensdag was 19,28 miljoen mense in die land volledig ingeënt. Dit is 48,45% van die volwasse bevolking van die land.
Volgens Gray volg die pandemie dieselfde patroon as die afgelope twee jaar en word die vlaag in Mei as Suid-Afrika se "wintervlaag" vir die jaar beskou.
"Mense is weer binnenshuis en dan word die virus makliker versprei."
Dr. Angelique Coetzee, lid van Solidariteit se mediese adviesraad, is dit eens met haar kollega. "Ons inentingsprogram is uiters sleg."
Sy sê Hongkong het in dieselfde strik getrap. "Hul ouer bevolking, veral mense bo 80, is nie ingeënt nie. Slegs 68% van ons bevolking van ouer as 60 is ingeënt, en nie almal het opvolgdosisse gekry nie."
Verskeie gebiede in China is reeds weer ingeperk en dit wil voorkom of Hongkong dieselfde pad kan loop.
Ons inentingsprogram is uiters sleg.
Prof. Salim Abdool Karim, epidemioloog en lid van die Wêreldgesondheidsorganisasie se wetenskapsraad, het Dinsdag gesê daar is nie 'n regte of verkeerde benadering tot die bestuur van die pandemie nie, en elke land se unieke omstandighede moet in ag geneem word.
Hy sê lande soos Denemarke het besluit om alle inperkings af te skaf en het toe 'n reuse-oplewing in positiewe gevalle gesien.




















