Die Springbokrugbyheld van weleer Frik du Preez, wat ook in Wêreldrugby se heldesaal opgeneem is, is Dinsdag uit die hospitaal ontslaan nadat Covid by hom gediagnoseer is en hy sterk verder by die huis aan.
Du Preez het een aand in die hospitaal deurgebring. “Ek het nie eens geweet ek het Covid nie, maar ek is opgeneem. Die dokter het my toe ná een aand huis toe gestuur, so ek is nou hier saam met my vrou by die huis.”
Du Preez sê sy dokter glo hy gaan vinniger gesond word by die huis.
“Ek voel eintlik die beste wat ek die hele jaar al gevoel het,” het Du Preez Donderdagmiddag met ’n laggie aan Netwerk24 vertel.
“Ek drink ook meer pille as wat ek al ooit het, daar is baie van die goed,” sê hy.
Du Preez het Donderdagmiddag vertel dat dit “regtig goed gaan. Ek is oukei, en baie gelukkig hier by die huis.”
Hy het ook grappies gemaak en gesels oor sy 90ste verjaardag wat om die draai is. Du Preez verjaar op 28 November.
“Ek het self nog nie iets beplan nie. Ek weet die Blou Bulle Rugbyunie werk aan iets by Loftus,” sê hy.

Du Preez vertel dat hy ’n klomp van sy vriende na die geleentheid genooi het “en die meeste het darem gesê hulle gaan kom”.
Du Preez sê dit gaan lekker wees om al sy vriende weer te sien, maar verwys spottenderwys daarna dat “op hierdie ouderdom dit ook moeiliker raak om na sulke dinge uit te sien”.
Du Preez het ook ’n bietjie gesels oor Saterdag se wedstryd tussen die Springbokke en Nieu-Seeland.
Hy het sy ervaring gedeel van hoe moeilik ’n wedstryd in Nieu-Seeland kan wees. “Om die All Blacks op tuisbodem te klop, is nie elke span beskore nie. Ons het laas week ’n goeie vertoning gelewer. Om hulle te klop gaan moeilik wees, maar ek staan 100% agter die Springbokke.”
Du Preez sê ook hy is bly dat hy nie die Springbokspan afrig nie, want “daar is soveel talent, ek sou nie weet hoe om ’n span te kies nie”.



















