Die Wes-Kaapse regering sê 'n vyfde vlaag van koronavirusinfeksies kan selfs 'n kleiner uitwerking op die gesondheidstelsel as die vierde vlaag hê.
Daar is glo al hoe meer bewyse van 'n normalisering van die reaksie op die virus en dat Covid-19 'n "epidemiologiese oorgang" ondergaan van 'n pandemie na 'n endemiese siekte waarmee mense moet leer om saam te leef.
Dr. Keith Cloete, hoof van die Wes-Kaapse departement van gesondheid, het Donderdag gesê dit is oor die wêreld heen die geval dat die pandemie 'n "bimodale" neiging toon, met 'n kruin in die somer en een in die winter.
Dit beteken dat die vyfde vlaag oor Mei, Junie en Julie verwag word.
Om met Covid te leef
Met dié dat die styging in infeksies in die vierde vlaag ontkoppel het van die styging in hospitalisasies en sterftes, word daar verwag dat toekomstige vlae se uitwerking nog kleiner gaan wees.
Cloete het op Alan Winde, die premier, se weeklikse mediavergadering oor Covid-19 gesê die onderliggende faktore vir dié ontkoppeling is toenemende weerstand danksy inentings of vorige besmetting met die siekte.
Die oorgang van 'n pandemie tot 'n endemie sal beteken dat die samelewing al hoe meer na normaal kan terugkeer, terwyl mense "internaliseer en leef met wat die bewyse vir ons sê die beste manier is om met Covid-19 saam te leef", sê hy.
Volgens Cloete sluit die lesse van Covid-19 in dat inentings werk en die beste beskerming bied, asook om 'n masker te dra wanneer gevalle begin styg, om 'n samedromming van mense veral binnenshuis te vermy en dat mense ruimtes met goeie ventilasie moet kies.
"As ons dit doen, is daar geen rede waarom ander aktiwiteite nie kan hervat en ons op 'n herstelpad kan wees nie."
Volgens sy voorlegging is Gauteng reeds uit die vierde vlaag, terwyl die ander provinsies in die land steeds in die vierde vlaag is met gevalle wat grootliks skerp daal.
Wes-Kaap steeds in 4de vlaag
Die Wes-Kaap sal na verwagting uit die vierde vlaag wees wanneer nuwe daaglikse gevalle tot 'n gemiddeld van 600 afneem. Tans is die gemiddeld nog 2 013 gevalle per dag.
Hospitalisasies het 'n plato van 217 per dag bereik en sterftes staan op 'n gemiddeld van 25 per dag, lui Cloete se voorlegging.
Op die oomblik maak Covid-19-gevalle net 13% van die kapasiteit van hospitale in Kaapstad en in die plattelandse distrikte uit.
Deskundiges van die provinsiale regering het bevind dat hoewel daar 14% meer gevalle van infeksies as in die vorige vlaag se kruin was, het hospitalisasies net 63% van die vorige kruin bereik en sterftes net 24% van die derde vlaag se kruin. Dit word aan weerstandigheid toegeskryf wat glo al onder 90% van die provinsie se bevolking voorkom, sowel as data wat aandui dat die Omikron-variant minder ernstige siekte veroorsaak.
Die departement se data wys dat mense wat ten volle ingeënt is se risiko om met Covid-19 in die hospitaal opgeneem te word drie keer laer is en dat die risiko byna vier keer laer is om te sterf vergeleke met iemand wat nie ingeënt is nie.
Winde het ook benadruk dat die reaksie op Covid-19 genormaliseer moet word en hy het weer gevra dat die ramptoestand opgehef moet word. Hy sê die nasionale regering moet eenvoudig nie die ramptoestand hernu wanneer dit op 15 Januarie verval nie.
"Hoe leef ons met Covid-19 saam? Ons normaliseer ons lewe, maar met begrip dat maatreëls in plek moet wees om ons te beskerm."
Mense wat byeenkomste aanbied of bywoon, gaan ook Covid-19 in ag moet neem om ander veilig te hou.
‘Heropen skole ten volle'
Volgens Winde wys die data en wetenskap ook dat skole teen volle kapasiteit moet heropen word, veral as daar gekyk word na die uitwerking op lang termyn op leerlinge en hul vermoë om te leer.
Die provinsiale regering beveel ook aan dat kinders van 12 jaar en ouer ingeënt word, veral as hulle kwesbaar vir ernstige siekte is.
Teen Woensdag is net 115 871 kinders van 12 tot 17 jaar in die Wes-Kaap al ingeënt, oftewel byna 18% van dié ouderdomsgroep.
Winde het benadruk dat indien alle leerlinge nie na die skool kan terugkeer nie, "dit in die toekoms groot nagevolge kan hê". Intussen sal besmettings by skole ook gemonitor word.
Die inentingskoers bly steeds laag, met 47% van volwassenes in die provinsie wat ten volle ingeënt is en 54% met minstens een dosis.
Onder mense van 60 jaar en ouer is 67% ten volle ingeënt en onder mense van 50 tot 59 jaar is 58% ten volle ingeënt. Dit daal tot 49% onder mense van 35 jaar tot 49 jaar en staan op slegs 34% onder mense van 18 tot 34 jaar.
• Kyk die volle uitsending hier.





















