Brittanje het die afgelope week 'n ander rigting as die meeste lande ingeslaan toe die reëls oor die dra van maskers en inentingspaspoorte geskrap is.
Reisigers is ook sonder Covid-19-toetse die land binnegelaat.
Die organiseerders van groot byeenkomste en nagklubs in Brittanje hoef nou nie meer mense te belet wat nie kan bewys hulle is ingeënt nie en Britte word nie meer aangeraai om van die huis te werk nie.
Die Suid-Afrikaanse nasionale Covid-19-bevelsraad en kabinet sal na verwagting binnekort vergader om maatreëls hier ook te verslap.
Dit blyk afstandreëls by skole en perke op getalle by sosiale byeenkomste kan gewysig word om Suid-Afrikaners se wêreld na normaal te laat begin terugkeer. In Europa en Amerika is dit egter onwaarskynlik dat die inperkingsregulasies binnekort algemeen verslap sal word omdat Omikron-gevalle in groot dele van die wêreld steeds drasties toeneem.
Afstand- en getallereëls by skole kan verander.
Baie lande is bang om kanse te waag nadat wetenskaplikes in Denemarke gesê het 'n nuwe Omikron-variant, bekend as BA.2, is meer aansteeklik as die oorspronklike Omikron-variant, BA.1. BA.1 is verantwoordelik vir 98% van alle Covid-19-gevalle wêreldwyd, maar in Denemarke het BA.2 dit twee weke gelede verbygesteek as die dominante variant.
Denemarke se Instituut vir Oordraagbare Siektes meen BA.2 kan sowat 1,5 keer meer aansteeklik wees as BA.1, veral vir mense wat nie ingeënt is nie, berig Reuters. Mense wat ingeënt is, loop óók groter gevaar om BA.2 op te doen. Daar is geen aanduidings dat BA.2 dodeliker is of tot meer hospitalisasies lei nie.
Verskeie mediese kenners in Suid-Afrika het hul stem nou dik gemaak dat die nasionale ramptoestand en die verpligte dra van maskers beëindig word.
Prof. Shabir Madhi, mediese dekaan by Wits en professor in entstofkunde, het in 'n onderhoud met die sentrum vir risiko-ontleders gesê die dra van lapmaskers keer nie eintlik die verspreiding van die virus nie. 'n Groep gesondheidskenners het in 'n artikel in Daily Maverick geskryf die dra van maskers in die buitelug behoort nie verpligtend te wees nie.
Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, het Woensdag op 'n lekgotla gesê haar departement het aanbevelings aan die bevelsraad gemaak dat afstandreëls in klaskamers verslap en die rotasiestelsel geskrap word.
Nathi Mthethwa, minister van sport, kuns en kultuur, het aan TimesLive gesê die verslapping van beperkings op getalle by sosiale byeenkomste sal op die volgende bevelsraad-vergadering bespreek word.
Intussen sal Frankryk se reëls oor die bywoning van groot byeenkomste en die dra van maskers na verwagting Woensdag geskrap word.
Nuwe regulasies vir inentingspaspoorte by eetplekke, teaters en langafstandtreine het 'n week gelede in werking getree. Die Franse regering beplan om die gebruik van entstofpaspoorte te skrap wanneer die pandemie in bedwang is.
Duitsland oorweeg weer verpligte inentings om sy burgers te dwing om hulself teen die virus te beskerm.
Sowat 75% van Duitse burgers het reeds een inenting gekry - heelwat minder as in talle ander Europese lande. Die Duitse regering is bekommerd dat nuwe variante die gesondheidstelsel in die herfs en winter onder druk kan plaas.
Die Amerikaanse regering moet intussen sy inentingsbeleid vir groot ondernemings laat vaar nadat die hooggeregshof dit ongeldig verklaar het. Ingevolge dié beleid sou ondernemings met meer as 100 werkers moes toesien dat hul werkers ingeënt is.
Die Amerikaanse Public Broadcasting Service berig dat meer mense daar daagliks in die Omikron-gedrewe vlaag sterf as gedurende Delta en dat die getalle in die komende dae en weke kan toeneem. Die daaglikse sterftesyfer in Amerika het Donderdag 'n nuwe rekord van 2 267 gehaal.




















