Meer as 100 000 mense in Suid-Afrika is sedert die begin van die pandemie aan Covid-19 dood.
Die nasionale departement van gesondheid het Woensdag 44 sterftes aangemeld, waarvan ses sterftes die voorafgaande 48 uur voorgekom het.
Suid-Afrika se Covid-19-dodetal staan nou op 100 020.
Die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios) sê in 'n verklaring weens die voortdurende oudit deur die nasionale gesondheidsdepartement kan 'n agterstand van Covid-19-sterftes aangemeld word.
Volgens die Nios se jongste beskikbare inligting is 1 679 nuwe koronavirusgevalle Woensdag aangemeld.
Gauteng (41%) het Woensdag die meeste van die nuwe gevalle aangemeld, gevolg deur die Wes-Kaap (22%), KwaZulu-Natal (21%) en die Oos-Kaap (5%).
Teen Woensdag het die land 13 699 aktiewe koronavirusgevalle aangemeld. Die meerderheid gevalle is in Gauteng (4 440) en KwaZulu-Natal (3 038).
Landwyd word 1 927 mense in die hospitaal vir Covid-19 behandel.
Suid-Afrika het tot dusver 19 365 398 mense teen die koronavirus ingeënt en is 33 569 841 entstofdosisse toegedien, waarvan 78 848 inentings die afgelope 24 uur toegedien is.


















