Chinese hospitale en begrafnisondernemers was Woensdag onder intense druk te midde van 'n nuwe erger wordende Covid-19-vlaag.
Intussen neem twyfel toe oor die amptelike syfers en sommige lande oorweeg nuwe reisregulasies vir Chinese toeriste.
In 'n skielike verandering van beleid het China vandeesmaand begin om sy Covid-19-maatreëls - die wêreld se strengste - insluitend inperkings en uitgebreide toetsing, te skrap, wat die ekonomie weer op koers geplaas het.
Die opheffing van die inperkings, ná wydverspreide betogings, bring egter mee dat Covid-19 grootliks onbeheers versprei en besmet waarskynlik miljoene mense per dag, volgens sommige internasionale gesondheidskenners.
Die spoed waarteen China sy Covid-19-reëls verslap het, het sy brose gesondheidstelsel oorweldig.
China het vir Dinsdag drie nuwe Covid-19-verwante sterftes aangemeld, teen een vir Maandag - getalle wat nie ooreenstem met wat begrafnisondernemers aanmeld nie, en ook in teenstelling is met die ervaring in minder bevolkte lande wat die reëls verslap het.
In 'n belangrike stap om reis weer moontlik te maak, sal China vanaf 8 Januarie nie meer vereis dat inkomende reisigers in kwarantyn gaan nie, het die owerhede vandeesweek gesê.
Owerhede in die internasionale finansiële sentrum Hongkong het ook Woesndag gesê die meeste van die laaste Covid-19-maatreëls word opgeskort.
Aanlyn soektogte na vlugte uit China het reeds vanaf uiters lae vlakke toegeneem, maar inwoners en reisagentskappe meen 'n terugkeer na 'n situasie wat enigsins normaal is, sal nog 'n paar maande duur, aangesien inwoners steeds baie versigtig is.
Boonop oorweeg sommige regerings bykomende reisvereistes vir Chinese besoekers. Amerikaanse amptenare het "die gebrek aan deursigtige data" aangehaal as 'n rede daarvoor.
Indië, Taiwan en Japan gaan 'n negatiewe Covid-19-toets van reisigers vanaf die vasteland van China vereis, terwyl diegene wat positief getoets is in Japan vir 'n week lank moet isoleer. Tokio beplan ook om lugrederye wat vlugte na China bedryf, te beperk. Die Filippyne het dit oorweeg om toetse verpligtend te maak. - Reuters










