Hier is die jongste syfers in grafika:
2022-04-21 15:26:18
Twee jaar van Covid-19: Hoekom party konsep-regulasies onsinnig is
Baie van die aannames wat ons aanvanklik oor Covid-19 gemaak het, het intussen bollemakiesie geslaan.
Die vraag is hoekom van die regering se konsepregulasies steeds bly vashaak by 2020, vra Willemien Brümmer.
Lees die volledige artikel hier.2022-04-21 15:25:27
MENINGS | Nuwe normaal is ‘ek wil liewer by die huis bly’
Wêreldwyd maak landsgrense weer oop, maar dalk ’n bietjie te wyd na sommige mense se smaak, skryf Annemarie van der Walt.
Die Venesiërs en Amsterdammers is onder diegene wat so ’n bietjie dikmond is oor die terugkeer na die ou normaal van strome toeriste op tuisbodem.
Venesië gaan in ’n ses maande lange eksperiment toegangsgeld vir dagbesoekers vra. Want die een ding wat die sowat 50 000 heeltydse stadsbewoners tydens die Covid-19-pandemie besef het, is dat hulle nogal baie van die plek hou sans toeriste.
Die burgemeester noem dit ’n “asemskep” vir die stad.
Lees die volledige meningstuk hier. 2022-04-21 15:24:13
Covid-19 pootjie Force se stryd teen Moana Pasifika
Die eerste “Superronde” van die Super Rugby Pacific-reeks in Melbourne hierdie naweek het ’n terugslag beleef toe die wedstryd tussen die Western Force en Moana Pasifika weens ’n vlaag koronavirus-gevalle in die Wes-Australiërs se kamp uitgestel moes word.
Al ses wedstryde van die tiende ronde van dié reeks sou in Melbourne se Rectangular-stadion gespeel geword het.
Verskeie spelers in die Force-kamp sukkel egter met Covid-19 en die organiseerders het geen ander keuse gehad as om die span se wedstryd teen Moana Pasifika uit te stel nie.
Hierdie week se wedstryde sal die eerste keer wees dat spanne van Nieu-Seeland en Australië mekaar in Trans-Tasmaanse wedstryde pak.
Moana Pasifika is een van die spanne wat tot dusver die ergste deurgeloop het onder Covid-19 en verskeie van die span se wedstryde moes al dié seisoen uitgestel word. – Reuters
2022-04-20 19:50:22
2 846 nuwe gevalle, positiwiteitskoers is 13,4%
Luidens die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios) se jongste verklaring Woensdag is 21 239 Covid-19-toetse landwyd in die voorafgaande 24 uur gedoen, waarvan 2 846 positief was.
Dit verteenwoordig 'n positiwiteitskoers van 13,4%.
Die nasionale departement van gesondheid het 16 sterftes aangemeld, waarvan 8 sterftes in die afgelope 24 tot 48 uur voorgekom het.
Die sterftesyfers in Suid-Afrika sedert die begin van die pandemie is 100 211.
Lees NIOS se verklaring hier.2022-04-20 17:17:03
Omikron-variant wat tans versprei ‘nié nuwe Covid-19-vlaag’
Die mees onlangse Omikron-variant van die koronavirus het geweldig vinnig versprei, maar nie so baie mense erg siek gemaak nie, wat ’n genade was.
“Ons is dalk nie weer so gelukkig nie, maar ’n mens sal maar moet sien.”
So sê dr. Jo Barnes, epidemioloog aan die Universiteit Stellenbosch, by navraag oor die huidige positiwiteitskoers van 9,9% wat in die land aangeteken is, en oor of dít daarop dui dat daar ’n nuwe vlaag van die pandemie is.
Ook dr. Nicholas Crisp, adjunk-direkteur-generaal van gesondheid, sê wat die huidige positiwiteitskoers wys, is dat die virus steeds in omloop is.
Dit is die Omikron-variant en klein mutasies daarvan. – Marelize Barnard
Lees die volledige berig hier.2022-04-20 14:48:30
Breinskade dalk oorsaak van reukprobleem ná Covid
Koronavirus-infeksies hou verband met skade aan die deel van die brein wat met reuk geassosieer word, volgens ’n studie wat Maandag in JAMA Neurology gepubliseer is.
Die studie bied ’n moontlike verduideliking vir reukverlies op lang termyn ná Covid-19 wat tot 1,6 miljoen Amerikaners raak.
Dit is egter steeds onbekend hoe presies Covid-19 reukverlies veroorsaak.
Dit is egter een van die algemeenste simptome van die siekte en raak 60% van mense tussen 16 en 65 jaar oud wat positief vir die virus getoets word. – Forbes
2022-04-20 10:04:20‘n Seun in San José, Costa Rica, word met Pfizer-BioNTech ingeënt. Foto: Reuters

2022-04-20 10:03:54
Minder ingeënte kinders in hospitaal
Die aantal hospitaalopnames onder oningeënte kinders van vyf tot 11 jaar wat deur die Omikron-variant veroorsaak is, was twee keer hoër as dié van ingeënte kinders.
Dit is volgens ’n Amerikaanse studie wat Dinsdag uitgereik is.
Van Desember tot Februarie is 19,1 uit elke 100 000 oningeënte kinders in dié ouderdomsgroep in die hospitaal met Covid-19 opgeneem in vergelyking met 9,2 uit elke 100 000 ingeënte kinders.
Die studie het getoon 87% van 397 kinders wat met Covid-19 in die hospitaal opgeneem is, was oningeënt.
’n Derde van die kinders het geen onderliggende siektes gehad nie en 19% is in die hoësorgeenheid opgeneem.
Amerikaanse reguleerders het die Pfizer PFE.N-BioNTech inenting vir kinders van vyf tot 11 jaar in Oktober goedgekeur voordat die gevalle weens die Omikron-variant gestyg het.
Slegs 28% (8 miljoen) kinders in dié ouderdomsgroep is ten volle ingeënt. – Reuters
2022-04-20 10:02:47
Johnson vra verskoning vir partytjies
Boris Johnson, premier van Brittanje, het Dinsdag die parlement om verskoning gevra nadat hy deur die polisie beboet is omdat hy Covid-19-maatreëls oortree het.
Johnson sê hy het nie geweet ’n samekoms vir ’n verjaarsdag te midde van die pandemie was teenstrydig met die maatreëls wat hy vasgestel het nie.
Opposisielede sê Johnson moet bedank omdat hy streng inperkingsmaatreëls oortree het en toe glo herhaaldelik aan die parlement daaroor gelieg het.
Daar sal moontlik Donderdag gestem word oor of Johnson ondersoek moet word oor bewerings dat hy die parlement mislei het.
“Die mense het die reg om meer van hul premier te verwag,” het Johnson aan die parlement gesê. – Reuters

2022-04-20 08:26:42‘n Gesondheidswerker in persoonlike beskermende klere rus op ‘n sypaadjie in Shanghai. Foto: Reuters

2022-04-20 08:25:49
Minder gevalle in Shanghai
Sewe mense is Woensdag in Shanghai, China se finansiële hoofstad, aan Covid-19 dood.
Sewe sterftes is ook Maandag in dié stad aangemeld.
Dinsdag is 16 407 nuwe asimptomatiese koronavirusgevalle aangemeld in vergelyking met 17 332 gevalle die vorige dag.
Die aantal simptomatiese gevalle het van 3 084 tot 2 494 gedaal.
Daar is ook 390 gevalle aangemeld in gebiede waar daar nie inperkings is nie. – Reuters
2022-04-20 07:07:56Mense sonder maskers by ‘n bushalte in New Jersey nadat ’n hof onlangs bevind het dié maatreël is onwettig. Foto: Reuters

2022-04-20 07:07:25
Biden wil appèl aanteken oor dra van maskers
Pres. Joe Biden van Amerika se administrasie sê hy gaan appèl aanteken oor ’n regter se bevinding Maandag dat die dra van maskers op openbare vervoer onwettig is.
Die mandaat oor maskers sou op 3 Mei verval het, en is van toepassing op vliegtuie, treine en ander openbare vervoer.
Die Amerikaanse sentrum vir siektebeheer en -voorkoming (CDC) sê hy sal bepaal of die mandaat steeds nodig is.
Die departement van justisie sê hy gaan appèl aanteken teen regter Kathryn Kimball Mizelle se beslissing dat die mandaat wat vir 14 maande ingestel was, onwettig is, indien die CDC bepaal die mandaat was nodig om openbare gesondheid te beskerm.
Die CDC beveel mense steeds aan om maskers binnenshuis en op openbare vervoer te dra.
Koronavirusgevalle in Amerika neem toe en meer as 400 sterftes word daagliks aangemeld volgens die onlangse gemiddelde sterftes oor sewe dae.
Jen Psaki, woordvoerder van die Withuis, sê besluite oor openbare gesondheid moet nie deur howe geneem word nie maar deur openbare gesondheidskenners. – Reuters
2022-04-20 05:26:19
Delhi Capitals se Aussie-ster in hospitaal met Covid-19
Die veelsydige Australiese krieketspeler Mitch Marsh is met Covid-19 in ’n hospitaal in Indië opgeneem.
Marsh speel vir die Delhi Capitals in die Indiese Premierliga (IPL).
Die Delhi Capitals sê in ’n verklaring Marsh, wat 32 toetse vir Australië gespeel het, is een van “min” mense in die span se “bioborrel” wat positief vir die koronavirus getoets is, maar dat die res asimptomaties is.
“Die Delhi Capitals se gesondheidspersoneel monitor Marsh se toestand noukeurig,” sê die span op Twitter.
“Alle oorblywende lede van die bioborrel is in isolasie in hul onderskeie kamers en sal gereeld getoets word.” – Reuters, Sportredaksie

Lees die hele berig hier.2022-04-20 05:26:16
Maskers binne ‘nie maklik afgedwing nie’
Die oorgangsmaatreëls wat tans geld weens die Covid-19-pandemie, soos die dra van maskers binnenshuis, sal nie maklik strafregtelik afgedwing kan word nie.
Dit is die reaksie van kenners nadat dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, Dinsdag op ’n mediakonferensie nie veel duidelikheid oor dié kwessie kon gee nie.
Die maatreëls geld vir 30 dae nadat die nasionale ramptoestand vroeër vandeesmaand opgehef is hangende die bekragtiging van nuwe gesondheidsregulasies. – Christiaan du Plessis
Lees die hele berig hier.2022-04-20 05:26:132022-04-20 05:26:07
Jongste syfers in SA
14 Covid-19-sterftes, waarvan drie in die afgelope 24 tot 48 uur was, is Dinsdagaand in die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios) se verslag bekend gemaak.
Die totale sterftesyfer is 100 195. Daar is ook 1 475 nuwe infeksies in die afgelope 24 uur aangemeld, wat die kumulatiewe syfer op 3 743 582 te staan bring.
Die positiwiteitskoers is 9,9%. 24 212 994 toetse is reeds gedoen, waarvan 14 835 sedert die vorige verslag gedoen is.
Daar is tans 14 611 aktiewe gevalle in die land.
3 628 776 mense het herstel.
41 mense is sedert die vorige verslag weens die virussiekte in hospitale opgeneem en 2 070 mense word tans in hospitale behandel.
Tot dusver is 34 413 466 dosisse entstof in Suid-Afrika toegedien, waarvan 43 634 in die afgelope 24 uur toegedien is.



















