Covid-19

Dagga keer dalk koronavirus, maar . . .

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Vroeë navorsing in Amerika dui daarop dat sekere molekules in dagga dalk infeksie met die koronavirus kan keer. Maar kenners waarsku dat mense nie dié dwelmmiddel net neem met die idee dat dit hulle teen Covid-19 gaan beskerm nie.

Hulle het Vrydag reageer nadat laboratorium-navorsing bevind het dat twee molekules in dagga gekeer het dat die koronavirus menslike selle binnedring.

Prof. Glenda Gray, president van die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad.  Foto: Jaco Marais
Prof. Glenda Gray, president van die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad. Foto: Jaco Marais

Prof. Glenda Gray, president van die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad, het in vraetyd op 'n mediakonferensie van die departement van gesondheid gesê dit bly nogtans 'n "belangrike ontdekking".

Bloomberg berig navorsers van Amerika het bevind dat die molekules "cannabigerolic acid" en "cannabidiolic acid", aan die stekelproteïene van die virus kon bind en 'n stap keer wat die virus gebruik om die mens te infekteer.

Die betrokke molekules kom glo gereeld voor in hemp, 'n sekere kultivar van dagga wat gebruik kan word om 'n wye verskeidenheid produkte mee te vervaardig.

Die navorsing is egter slegs op die Beta- en Alpha-variante van die koronavirus uitgevoer en kliniese toetse is nie op mense uitgevoer nie.

Prof. Koleka Mlisana, voorsitter van die ministeriële Covid-19-advieskomitee. Foto: Argief
Prof. Koleka Mlisana, voorsitter van die ministeriële Covid-19-advieskomitee. Foto: Argief

Prof. Koleka Mlisana, medevoorsitter van die ministeriële advieskomitee oor Covid-19, waarsku ook dat mense nie nou "oorhaastig moet gaan dagga rook nie".

"Ons het baie meer data oor die veiligheid en doeltreffendheid nodig. Ons moet ook onthou dat inenting die beste manier is om ernstige siekte met Covid-19 te verhoed," sê Mlisana.

Prof. Helen Rees, voorsitter van Sahpra. Foto: Argief
Prof. Helen Rees, voorsitter van Sahpra. Foto: Argief

Prof. Helen Rees, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Gesondheidsproduktebeheerraad (Sahpra), sê dit is wel belangrik om enige belowende laboratorium-navorsing met kliniese navorsing op te volg.

"Aan die begin van die pandemie is daar egter verskeie molekules deur algoritmes gekies, omdat daar geglo is dat dit die grootste kans bied vir beskerming teen Covid-19. Die laboratoriumtoetse was aanvanklik belowend, maar in 'n kliniese omgewing het dit nie gewerk nie."

Volgens Bloomberg is die navorsing, wat nog nie aan portuur-beoordeling onderwerp is nie, deur wetenskaplikes van die Oregon-staatsuniversiteit uitgevoer. Die bevindings is in die Journal of Nature Products gepubliseer.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM