Covid-19

N-Korea meld eerste infeksies aan

Noord-Korea, waar sover bekend niemand teen die koronavirus SARS-CoV-2 ingeënt is nie, het streng inperkingsmaatreëls aangekondig nadat die land sy eerste amptelike positiewe gevalle aangemeld het.

Plaaslike media berig talle inwoners van die hoofstad, Pjongjang, het die Omikron-variant opgedoen, maar daar is nie gespesifiseer hoeveel mense positief getoets is nie.

Dit is die eerste keer dat dié land SARS-CoV-2-gevalle bevestig het, hoewel dit moontlik is dat daar voorheen geïsoleerde gevalle kon wees, in ag genome die land se handel met China.

Die uitbreking wek groot kommer dat 'n krisis kan ontstaan omdat die land, met sy sowat 25 miljoen inwoners, 'n inentingsbeleid verwerp het en steeds aanbiedings van entstofvervaardigers soos AstraZeneca verwerp. Daar is ook kommer oor die land se gesondheidstelsel.

Verder is die land midde-in 'n droogte met kos wat skaars word. Die land se grense is reeds in Januarie 2020 vir besoekers gesluit. Die besluit het daartoe gelei dat geen hulpbronne die land kon binnekom nie.

Intussen het die Chinese staat-TV gister berig Noord-Korea het sedert Dinsdag opdrag gegee dat al sy burgers by die huis bly as deel van 'n "ernstige inperking" terwyl noodreserwes van medisyne beskikbaar gestel word. - BBC, Reuters

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM