Covid-19

NDZ vra kommentaar oor hersiene regulasies

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Selfs nadat pres. Cyril Ramaphosa die ramptoestand in die land ophef, sal die voorgestelde regulasies daarna nog vir 30 dae steeds onder die ramptoestand geldig wees.

Dit sal eers daarna opgehef en deur gesondheidswetgewing vervang word.

Dit blyk uit die hersiene regulasies onder die ramptoestand wat dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, Woensdag vir openbare kommentaar in die Staatskoerant gepubliseer het.

Die regulasies is tot Vrydag 1 April oop vir kommentaar en Dlamini-Zuma het Dinsdag gesê die regering poog om die ramptoestand teen 5 April op te hef.

Dr. Nkosazana Dlamini-Zuma Foto: GCIS
Dr. Nkosazana Dlamini-Zuma Foto: GCIS

Die hersiene voorgestelde regulasies sluit onder meer in dat:

• Die dra van gesigsmaskers is steeds binnenshuis verpligtend, maar kinders van jonger as ses jaar hoef dit nie meer te dra nie. Daar word ook voorgestel dat gesigsmaskers verpligtend moet bly wanneer mense openbare vervoer gebruik.

• Mense op byeenkomste word steeds beperk tot 50% van die kapasiteit van die plek waar dit aangebied word, mits die mense teen Covid-19 ingeënt is of 'n negatiewe Covid-19-toets van nie ouer nie as 72 uur kan toon. As mense nie ingeënt is en ook nie 'n negatiewe Covid-19-toets kan toon nie, moet die getalle tot 1 000 mense binnenshuis en 2 000 mense in die buitelug beperk word.

• As daar nie 'n versekering is dat mense 'n afstand van een meter van mekaar kan handhaaf nie, kan net tot 50% van die kapasiteit gevul word.

• Die land se 21 grensposte wat tans oop is, sal oopbly, terwyl die 32 grensposte wat steeds gesluit is, gesluit sal bly.

• Reisigers wat van die buiteland af na Suid-Afrika kom, moet 'n inentingsertifikaat of 'n negatiewe Covid-19-toets van nie ouer nie as 72 uur toon. As hulle nie een van die twee het nie, sal die reisiger gevra word om 'n antigeen Covid-19-toets op eie koste by die grenspos te laat doen. Indien dit positief is, sal hulle hulself op eie koste vir tien dae moet isoleer.

Oor die opheffing van die ramptoestand, wat nie noodwendig 'n einde aan die ramptoestandregulasies sal maak nie, het Jacques Broodryk, AfriForum se veldtogtebestuurder, Woensdag gesê dit is kommerwekkend.

"'n Regulasie wat onlangs gepubliseer is, dui nou aan dat die ramptoestandregulasies steeds sal geld tot 30 dae nadat die ramptoestand opgehef is.

"Al is daar dus geen ramptoestand nie, sal die regering steeds al die onnodige regulasies kan afdwing totdat die gesondheidswette aangepas is om die regulasies in permanente wetgewing te vervat," sê hy.

Hy sê verder AfriForum sal voortgaan met sy hofsaak indien die regering nie die ramptoestand ophef nie.

AfriForum sal ook die voorgestelde wysiging aan die gesondheidswet teenstaan.

"Die ANC is magsbehep en doen sy uiterste bes om allerhande slinkse maniere uit te dink om aan sy onbeperkte magte te klou.

"Solank as wat die regulasies in plek is, kan die president en 'n klein groepie ministers die parlement omseil en regulasies uitdink soos hul lus kry. Vir alle praktiese doeleindes is Suid-Afrika al twee jaar lank nie meer 'n demokrasie nie, en daarom sal ons aanhou om vir burgers se regte te baklei," sê Broodryk.

Sou die minister die regulasies promulgeer, sal sy optree buite die magte wat wetgewing haar bied.

Dr. Nicolas Crisp, adjunk-direkteur-generaal van gesondheid, het daarop gewys dat die 30 dae gebruik sal word vir staatsdepartemente om hul wetgewings onder die gesondheidswet gereed en in plek te kan kry.

Intussen het Sakeliga ook sy kommer oor die nuwe voorgestelde regulasies uitgespreek.

Sakeliga moedig ondernemings en sakeorganisasies in 'n verklaring aan om nie die voorgestelde regulasies te steun nie. Te midde van toenemend irrasionele en skadelike regeringsoptrede moedig Sakeliga 'n eensydige terugkeer na goeie oordeel aan.

"Intussen oorweeg ons om ons bestaande litigasie teen die ramptoestand en die regulasies uit te brei om die jongste verwikkelinge in ag te neem.

"Sakeliga verwerp die nuwe regulasies, wat op onregmatige wyse poog om ondoeltreffende en onnodige maatreëls in plek te hou, selfs nadat die ramptoestand opgehef is.

"Sou die minister die regulasies promulgeer, sal sy optree buite die magte wat wetgewing haar bied. Sy mag nie ná die afskaffing van die ramptoestand voortgaan om magte ingevolge daarvan uit te oefen nie," lui die verklaring.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM