Die eerste geval van 'n nuwe koronavirus-subvariant, wat as die aansteeklikste tot nog toe beskryf word, is in Suid-Afrika bevestig.
Navorsers aan die Universiteit Stellenbosch (US) het die XBB.1.5-variant, 'n Omikron-subvariant, in 'n monster van 27 Desember bevestig.
Tulio de Oliveira, professor in bio-informatika aan die US se skool vir datawetenskap en rekenaardenke én in die fakulteit natuurwetenskap, geneeskunde en gesondheidswetenskap, het aan Netwerk24 gesê die subvariant is bevestig tydens hul weeklikse ontleding van genomiese data, wat hulle sedert Maart 2020 weekliks ontvang.

Die nasionale departement van gesondheid is reeds daaroor ingelig.
Foster Mohale, woordvoerder van die departement van gesondheid, sê gesprekke word met die wetenskaplikes gevoer om meer inligting te kry oor die oordraagbaarheid en erns daarvan.
"Die departement sal binnekort amptelik 'n verklaring daaroor uitreik. Intussen doen ons 'n beroep op mense om ingeënt te word, asook om niefarmaseutiese maatreëls te handhaaf."
Die XBB.1.5-subvariant is bevestig in 'n monster van 'n pasiënt in die Wes-Kaap. De Oliveira benadruk dat slegs die een monster die subvariant bevat het en dit dui nog op 'n baie lae voorkoms.
Hy is ook nie verbaas dat dit in die Wes-Kaap voorgekom het nie, aangesien dit sy oorsprong in die Verenigde State het en dié provinsie talle internasionale besoekers in die vakansietyd het.
Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) het onlangs gesê meer as 40% van Covid-19-gevalle in Amerika word deur die XBB.1.5-subvariant gedryf en dit is al in meer as 25 lande geïdentifiseer.
LEES OOK |Nuwe subvariant aansteeklikste nog, sê WGO
Hoewel die nuwe subvariant as die aansteeklikste tot dusver beskou word, sê die WGO dit lyk nie asof dit mense sieker maak as vroeëre variante nie.
De Oliveira sê ook hy verwag nie dat dit 'n groot vlaag hospitalisasies sal dryf in Suid-Afrika nie omdat die land 'n hoë vlak van immuniteit het en reeds vorige vlae van Omikron-afstammelinge ervaar het.
Hy sê mense wat bekommerd voel oor die subvariant, kan 'n inenting of opvolgdosis teen die virus ontvang.
















