Terwyl die koers van inentings in Suid-Afrika aanhou daal, waarsku kenners dat oningeënte mense 'n risiko vir ander mense inhou, insluitend dié wat ingeënt is.
Sedert September, toe meer as 1 miljoen inentings in een week toegedien is, het die koers skerp afgeneem.
Sedert Desember word minder as 200 000 inentings per week in Suid-Afrika toegedien. Slegs sowat 42% van die volwasse bevolking is reeds ten volle ingeënt.
Prof. Shabir Madhi, entstofkundige en dekaan van die Universiteit van die Witwatersrand (Wits) se fakulteit gesondheidswetenskappe, meen entstowwe bied baie beter beskerming as natuurlike infeksie.
"Mense wat vroeër geïnfekteer was en dan ingeënt word, sal groter beskerming teen infeksie hê en die moontlikheid verminder om die virus aan ander mense oor te dra," het Madhi Donderdag by navraag gesê.
Hy sê omdat entstowwe nie 100%-beskerming teen hospitalisasie bied nie, is dit daarom belangrik om die risiko vir oordrag, veral na mense met onderliggende siektetoestande, te verminder.
Dr. Cloete van Vuuren, kenner in oordraagbare siektes, sê daar was die afgelope ruk klomp verwarrende boodskappe wat die doeltreffendheid van inentings teen die Omikron-variant van die koronavirus betref om oordrag te verhoed. "Die kans is egter steeds die helfte minder om aangesteek te word indien iemand ingeënt is."
Mense wat vroeër geïnfekteer was en dan ingeënt word, sal groter beskerming teen infeksie hê en die moontlikheid verminder om die virus aan ander mense oor te dra.
Dr. Aslam Dasoo, sameroeper van die progressiewe gesondheidsforum, sê wanneer ingeënte mense wel die koronavirus SARS-CoV-2 opdoen, is hulle boonop geneig om vir 'n korter tydperk aansteeklik te wees.
Van Vuuren stem saam dat veral mense met onderliggende siektes, of wie se immuunstelsel deur onder meer kankerbehandeling onderdruk word, beskerm moet word deurdat ander hulself laat inent.
"Ek weet van 'n familie wie se kind 'n onderliggende siekte het. Die kind is ingeënt, maar die familie kan nêrens heen gaan nie, want hulle wil nie die kind blootstel nie."




















