'n New Yorkse skoolonderwyseres is in hegtenis geneem nadat sy na bewering 'n leerling met 'n Covid-19-entstof ingeënt het.
Die BBC berig Laura Russo het die dosis by haar huis toegedien ondanks die feit dat sy nie enige wetlike magtiging daarvoor gehad het nie.
Russo (54), wat in biologie onderrig gee, is op Oujaarsaand aangehou en kan vier jaar tronkstraf opgelê word as sy skuldig bevind word.
Die 17-jarige seun wou glo die entstof hê.
Inspuitings kan gevaarlik wees as dit verkeerd toegedien word. Dokters en gelisensieerde mediese werkers moet verifieer dat 'n entstof nie vervals is of verval het nie. Pasiënte moet ook uitgevra word oor hul mediese geskiedenis en hul reaksie ná die inenting moet gemonitor word.
Russo word van die ongemagtigde beoefening van 'n beroep aangekla.
Die vrou sal op 21 Januarie verhoor word.
Volgens die Express het die polisie nie bekendgemaak watter tipe entstof Russo gebruik het nie.
Die Pfizer-entstof is die enigste wat in Amerika vir mense onder 18 jaar oud goedgekeur is.
'n Video van die voorval, wat op sosiale media versprei word, wys hoe Russo vir die tiener sê: "Jy sal oukei wees, hoop ek."
Die student sê dan: "Hier gaan hy. Inenting tuis."
Die New York Times berig die meerderheid Amerikaanse state, insluitend New York, vereis ouers se toestemming om minderjariges teen Covid-19 in te ent. Sommige ouers weier om verskeie redes, insluitend kommer oor moontlike teenreaksies en veiligheid, dat hul kinders ingeënt word.
Wetenskaplikes sê dit is bekend dat die entstowwe veilig vir kinders van vyf jaar en ouer is.
Die verspreiding van die hoogs aansteeklike Omikron-variant het tot 'n toename in pediatriese hospitalisasies gelei.
Breë immuniteit kan nie bereik word nie tensy minderjariges ingeënt word. Die owerhede hoop dat meer ouers hul kinders sal laat inent, veral omdat talle aan die begin van die nuwe jaar na die skoolbanke terugkeer.















