Covid-19

SOE verklaar Covid-tenders ongeldig

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Hamilton Ndlovu Foto: Daily Sun
Hamilton Ndlovu Foto: Daily Sun

Die spesiale ondersoekeenheid (SOE) se spesiale tribunaal het gelas dat die Nasionale Gesondheidslaboratoriumdiens (NHLS) die Gautengse sakeman Hamilton Ndlovu en sy maatskappye op sy databasis van ongemagtigde verskaffers moet plaas.

Die SOE het Dinsdag aangekondig die Covid-19-verwante kontrakte ter waarde R172 miljoen wat aan Ndlovu toegeken is, is nou nietig verklaar en hy moet 'n groot gedeelte daarvan terugbetaal.

Die SOE se ondersoek het ook getoon dat omtrent R15 miljoen daarvan gebruik is om die kontrakte te diens.

https://twitter.com/RSASIU/status/1534089936604995584

Die eenheid probeer nou al 'n geruime tyd die geld van Ndlovu verhaal en het Dinsdag oor die jongste verwikkelinge getwiet.

https://twitter.com/RSASIU/status/1534111011468414977

Ndlovu en sy vennote moet R158 miljoen opdok en sy bates soos luukse motors, huise en meubels is deur die SOE bevries.

Hy het in 2020 die opskrifte gehaal toe hy 'n video van sy vloot luukse voertuie op sosiale media geplaas het, het News24 vroeër berig.

In hul verslag, wat die SOE in Januarie uitgereik het, word bekend gemaak dat die verskeie maatskappye wat met Ndlovu verbind word, teen hulself meegeding het om tenders vir die verskaffing van persoonlike beskermde toerusting (PBT) van miljoene rand los te slaan.

Die SOE sê die meeste van die maatskappye het nooit 'n enkele PBT-item aan die NHLS gelewer nie.

Die maatskappye is volgens die verslag beheer deur Ndlovu en is gebruik as 'n front om sake met die regering te doen. Die SOE het hom selfs die "outeur" van 'n bedrieglike skema genoem.

Die maatskappye aan wie die PBT-kontrakte toegeken is, het betalings in Ndlovu se bankrekening gemaak en hierdie betalings is herlei na Hamilton Holdings sowel as Feliham Trading.

News24 het in Maart berig adv. Barry Roux, wat die SOE verteenwoordig, het voor regter Lebogang Modiba betoog dat al die kontrakte opgehef moet word.

Hy het bygevoeg dat die hartseer ding is dat die bedrog in 'n tyd plaasgevind het toe die land 'n desperate behoefte gehad het om die probleme wat deur Covid-19 veroorsaak is, aan te pak.

Die SOE het aangevoer dat die meeste van die maatskappye leë doppe is en ongekwalifiseerd is om PBT te verskaf.

Van die R172 miljoen wat betaal is, het amper 90% gegaan na Ndlovu of maatskappye wat deur hom beheer is en dit is vir sy persoonlike gewin gebruik.

Binne net 'n paar maande het hy miljoene rande van die geld aan motors, huise, meubels en beleggings bestee, terwyl R16 miljoen van die NHLS se betalings as kontant onttrek is.

Adv. Matlhaba Manala, Ndlovu se regsverteenwoordiger, sê die bewerings van bedrog kon nie bewys word nie, en daarom is daar geen gronde vir Modiba om 'n bevel oor die saak te gee nie.

In September verlede jaar het die SOE en die NHLS die spesiale tribunaal genader om Ndlovu te keer om van bates ter waarde van R42 miljoen ontslae te raak.

CTA