Meer as 70% van die Universiteit van die Vrystaat (UV) se heeltydse personeellede het reeds hul inentingsertifikate op die kampustoegangstelsel gelaai, sê dié universiteit.
Lacea Loader, UV-woordvoerder, het by navraag gesê die universiteit is tevrede met die stelsel en proses wat gebruik word om ingeënte en oningeënte studente en personeel toegang tot sy kampusse te gee.

Mense wat nie teen die koronavirus ingeënt is nie, moet weekliks 'n negatiewe polimerasekettingreaksietoets vir die virus op die stelsel laai om by die kampusse in te kom, tensy hulle goedgekeurde uitstel of vrystelling het.
Loader kan nog nie sê hoeveel studente inentingsertifikate ingedien het nie, aangesien registrasies eers Vrydag sluit en slegs geregistreerde studente hul sertifikate kan oplaai.
Die hooggeregshof in Bloemfontein het verlede Vrydag die organisasie Free State for Choice se dringende aansoek om 'n tussentydse interdik teen die UV se inentingsbeleid te bekom weens 'n gebrek aan dringendheid van die hofrol geskrap, het Kaydene Davidsberig. Hy wou die UV keer om die beleid vanaf Maandag in te stel.
Dié organisasie en Solidariteit gaan egter voort met hul sake teen die beleid waarvoor hofdatums nog vasgestel moet word.
Die UV begin komende Maandag met sy akademiese program.
'n Groep mense van wie sommige geklee was in ACDP-hemde en plakkate gehad het wat lui dié party is teen die UV se beleid gekant, het Woensdag in die universiteitsomgewing in Bloemfontein saamgekom.

Loader sê al drie kampusse is vandeesweek kalm en sy aktiwiteite gaan soos normaalweg voort.
"Die universiteit maak goeie vordering met sy aanlyn registrasieproses en vorder ook goed met die behaling van sy inskrywingsteiken wat die departement van hoër onderwys en opleiding vir 2022 gestel het."
Dié teiken is sowat 42 000 studente, voorgraads en nagraads, op al sy kampusse.
Sy sê die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente (NSFAS) het 26 366 van sy studente se aansoeke vir beurse goedgekeur.
Volgens Loader het die UV verskeie geldelike toegewings gemaak sodat studente kan registreer. Dit omdat die beurs-lyste eers ná 'n ruk beskikbaar gestel is en die registrasieproses reeds begin het.
Wat studente se verblyfprobleme betref, sê Loader verskeie maatreëls is ingestel om die verblyfproses in oorleg met verskeie belanghebbendes te bestuur.
'n Groep studente het op 8 Februarie by die beskermingsdiens op die Bloemfontein-kampus opgedaag en noodverblyf gevra. Volgens die UV is verblyf in twee van die kampus se koshuise aangebied, maar die kampusstudenteraad het dit namens die groep van die hand gewys. Die UV het toe verblyf vir die groep in 'n noodverblyfgerief buite die kampus gereël.
• Die Sentrale Universiteit vir Tegnologie (SUT) het sedert Maandag met die begin van sy akademiese program nog geen ontwrigting ervaar nie, sê Seithati Semenokane, 'n SUT-woordvoerder.
Dit kom nadat die hoofingang na sy Bloemfontein-kampus verlede week met rommel bestrooi is, glo uit protes oor verblyf, NSFAS-geld en uitstaande eksamenpunte.
Semenokane sê die probleem met die uitstaande eksamenpunte is opgelos.
Die universiteit se registrasies sluit Vrydag.
Die SUT vereis nie inenting teen die koronavirus nie, maar moedig dit wel by sy studente en personeel aan, sê sy.
Sy sê die universiteitsraad het die bestuur opdrag gegee om vakbond- en studenteleiers te raadpleeg oor of 'n beleid van verpligte inenting ingestel moet word, al dan nie.




















