Gesondheid

Cyril-kamp steun kompromis om private medies te red

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

'n Kompromisvoorstel wat 'n moontlike uitweg uit die doolhof van Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) bied, geniet steun onder bondgenote van pres. Cyril Ramaphosa.

Voorstanders van die middeweg­opsie, wat die afgelope week deur die Hospitaalvereniging van Suid-Afrika (Hasa) voorgelê is, glo dit sal beter gesondheidsorg vir armes beteken, sonder om private mediese fondse nek om te draai.

Pres. Cyril Ramaphosa Foto: Jaco Marais
Pres. Cyril Ramaphosa Foto: Jaco Marais

Die plan behels onder meer dat alle werkers in die formele sektor verplig word om die een of ander vorm van mediese versekering te hê (sien kassie onder).

Die Hasa-voorlegging is opgewonde in die private sektor ontvang en Rapport verneem dit het ook hoëvlak-steun in die ANC gekry, veral van senior lede na aan Ramaphosa. Daar is egter steeds 'n beduidende faksie in die party wat onverbiddelik tot die vestiging van 'n NGV-stelsel verbind bly, onder wie dr. Aaron Motsoaledi, minister van gesondheid.

Dr. Nicholas Crisp, hoof van die NGV in die departement van gesondheid, het die afgelope week aan Rapport gesê die Hasa-plan is "ondoeltreffend tot die uiterste toe".

Nietemin glo sommige senior ANC-lede die kompromis-opsie kan keer dat die plan vir universele gesondheidsorg in 'n moeras van nimmereindigende regsgedinge vasval.

Die NGV-planne het ook die ANC steun gekos, onder veral die swart middelklas.

"Die middeweg-opsie sal ons kans gee om ons lede wat deur die NGV vervreem is, te wys dat ons nie hul gesondheidsorg wil wegvat nie," het een regeringsbron, 'n lid van die ANC se nasionale uitvoerende komitee, by navraag gesê. Die bron, wat nie gemagtig is om met die media oor die NGV te praat nie, het op voorwaarde van anonimiteit kommentaar gelewer.

Dr. Richard Friedland, uittredende uitvoerende hoof van Netcare en een van die opstellers van die plan, het aan Rapport gesê hy beplan om binne die volgende paar weke met amptenare van die presidensie en die tesourie daaroor te vergader. Volgens die plan sal die regering na raming 52% meer per pasiënt in die openbare sektor kan bestee sonder dat die huidige begroting van die departement van gesondheid aangevul hoef te word.

"Die regering kan dan meer aan infrastruktuur bestee, die las op dokters verlig en kritieke poste vul," sê Friedland.

Hasa se voorlegging wys daarop dat Suid-Afrika 'n tekort van sowat 27 000 verpleegkundiges het, terwyl slegs 5 900 nuwe verpleegkundiges elke jaar opgelei word.

Boonop, sê Friedland, is dié voorstel nie nuut nie, maar is reeds in die ANC se gesondheidsplan van 1994 uitgewys as 'n oplossing om vir meer mense beter gesondheidsorg te gee.

Dit is selfs in die Wet op Mediese Skemas van 1998 vervat, maar die regulasies oor verpligte mediese dekking is nooit uitgevaardig nie.

Friedland wys verder daarop dat verpligte mediese dekking reeds met groot sukses ingestel is in onder meer Frankryk, Duits­land, België en Tsjeggië.

Sowat 60% van Afrikalande het ook 'n vorm van verpligte mediese dekking, terwyl lande soos Japan en Suid-Korea dit gebruik het om universele gesondheidsorg te verseker.

Die NGV-kwessie is al 'n geruime tyd 'n politieke turksvy vir die ANC. Voor die ondertekening van die NGV-wet op 15 Mei was die party se steun op 'n opwaartse kurwe, volgens die So­cial Re­search Foundation (SRF) se gesaghebbende dag-tot-dag-peiling (wat eindelik die ANC, DA en MKP se steun in die verkiesing tot binne 'n enkele persentasiepunt reg voorspel het).

Die ondertekening van die wet het dié opwaartse kurwe laat vassteek, met die ANC se steun wat binne enkele dae gedaal het van 45,9% tot 40%. Die party het eindelik slegs 40,2% van steun in die verkiesing gekry.

Ná die verkiesing was die hersiening van die NGV een van die voorvereistes van die ANC se grootste koalisievennoot, die DA, toe hy hom by die regering van nasionale eenheid aangesluit het.

Ramaphosa het in sy staatsrede toegegee dat daar op die hulpbronne van die "openbare en private sektore" staatgemaak sal moet word om "gesondheidsorg vir alle Suid-Afrikaners te gee".

Sedertdien het Motsoaledi egter telkemale aangedui dat hy met die NGV in sy huidige vorm wil volhard.

Die minister het die afgelope week op 'n internasionale farmaseutiese konferensie in Kaapstad gesê waarskuwings oor die potensieel rampspoedige gevolge van die NGV is blote bangmaakpraatjies en dit vergelyk met die "swart gevaar"-taktiek van die apartheidsjare.

"Ouer Suid-Afrikaners het al hierdie soort strategie gesien. Ons het gedink daardie tye is verby, maar ongelukkig bring die behoefte aan gelykheid in gesond­heid­sorg die strategie weer na vore," het hy gesê.

Rapport verneem Motsoaledi se retoriek het ongemak in dele van sy eie party veroorsaak, onder meer omdat dit spanning met koalisievennote soos die DA, IVP en VF Plus kan veroorsaak. Die kans dat Motsoa­ledi se departement vrywillig die Hasa-voorstel sal aangryp, blyk skraal te wees.

Crisp sê verskeie lande beweeg tans weg van soortgelyke be­de­lings­ omdat dit as ondoeltreffend bewys is. Friedland sê egter die feit is dat die NGV tans onbekostigbaar is.

"Die gesondheidsdepartement sê dit kan R200miljard ekstra kos, bo op die huidige begroting van R271 miljard, om dit in werking te stel; (die sake-organisasie) Busa meen dit sal R500miljard ekstra kos, terwyl ander organisasies meen dit kan meer as 'n biljoen rand ekstra kos om dit te vestig," sê Friedland.

"Al hoe die regering dit dan kan regkry, is deur belasting radikaal te verhoog - maatskappybelasting met 75% en persoonlike inkomstebelasting met meer as 30%."

Friedland sê almal in Suid-Afrika wil universele gesondheidsorg hê, maar dit moet volhoubaar gedoen word. Volgens Theuns du Buisson, ekonomiese navorser verbonde aan die Solidariteit-navorsingsinstituut, is die Hasa-voorstel 'n "mak­liker, goedkoper en doeltreffender" manier om universele gesondheidsorg te bewerkstellig. "Dit hang nou net af van die politieke wil, wat Motsoaledi duidelik nie het nie."

Só werk die nuwe voorstel

Net 15% van Suid-Afrikaners dra by tot 'n mediese fonds en dis noodsaaklik om dié poel te vergroot. So sê die Hospitaalvereniging van Suid-Afrika (Hasa) in sy plan vir volhoubare universele gesondheidsorg.

Ingevolge die plan moet alle Suid-Afrikaners wat formeel in diens is, verplig word om 'n vorm van mediese versekering te hê.

Hasa bereken dat net 9,2 miljoen van Suid-Afrika se bevolking van 63 miljoen mense tot 'n mediese fonds behoort, terwyl 53,8 miljoen (85%) op openbare gesondheidsorg staatmaak.

As 11,5 miljoen formele werkers (met 'n gemiddelde van 2,4 afhanklikes elk) verplig word om mediese versekering te kry, glo Hasa dat die getal mense met mediese versekering tot 27,5 miljoen verhoog kan word, oftewel 44% van die bevolking. Dit sal die las op die openbare gesondheidstelsel aansienlik verminder.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM