Bykans 17% van hoërskoolkinders in Suid-Afrika gebruik 'n e-sigaret of damptoestelle (vapes). En hulle is dalk al van so jonk soos agtjarige ouderdom aan sulke produkte bekend gestel.
Nog 'n skokbevinding in 'n studie oor damprook onder hoërskoolleerlinge is dat omtrent 'n kwart van huidige damprokers op 14 al daarmee begin het.
Dié studie is gelei deur prof. Richard van Zyl-Smit, 'n pulmonoloog aan die Universiteit van Kaapstad (UK) en die Groote Schuur-hospitaal. Die uitslae is gister in die mediese vaktydskrif The Lancet gepubliseer.
Daarvolgens is 25 149 leerlinge van 52 gegoede skole in agt van die nege provinsies tussen Januarie en Oktober verlede jaar oor hul rookgewoontes uitgevra.
Al toon hulle gedrag van iemand wat ‘hoogs verslaaf' is, het 46% van die respondente aangevoer hulle is nie verslaaf nie.
Altesame 4 189 het aangedui hulle rook dampprodukte en van hulle het 88% gesê hulle gebruik e-sigarette wat nikotien bevat. Altesame 47% het gesê hulle rook binne die eerste uur nadat hulle wakker word - alles tekens van verslawing.
"Hierdie data toon die skaal van die gesondheidskrisis op hande," lui die studie. Die meeste respondente het aangedui hulle het uit nuuskierigheid of weens sosiale invloed begin om damprookprodukte te gebruik, maar dat hulle dit nou as 'n genesing vir angs, depressie en stres aanhou gebruik.
"Al toon hulle gedrag van iemand wat ‘hoogs verslaaf' is, het 46% van die respondente aangevoer hulle is nie verslaaf nie. Party het egter erken hulle kan nie sonder hierdie produkte nie. Ons bevindings dui daarop dat 'n gefokusde veldtog oor nikotienverslawing dringend by skole aangebied moet word."
Van Zyl-Smit hoop die resultate sal die regering tot stappe dwing.
"Die regering moet die gebruik van e-sigarette en dampprodukte reguleer. Daarna is daar baie opvoeding nodig om narratiewe te verander wat veral deur die bemarking van e-sigarette versprei word," sê hy.
Die Wetsontwerp op die Beheer van Tabakprodukte en Elektroniese Damprooktoestelle is in 2018 vir openbare kommentaar gepubliseer en in Desember 2022 in die parlement ter tafel gelê.
Dit het onder meer ten doel om rook in die openbaar en selfs sommige private ruimtes te beperk en die gebruik van damprooktoestelle te reguleer.


















