Vaping verhoog die kanse op hartversaking, en die gevaar van hartvatsiektes of 'n beroerte is klaarblyklik soortgelyk aan dié van rokers.
Dít is onder die bevindings in navorsing oor die gebruik van e-sigarette wat onlangs in Brittanje en Amerika gepubliseer is.

Mense wat e-sigarette gebruik, het 'n 19% hoër kans om hartversaking te kry, het dr. Yakubu Bene-Alhasan, studieleier by Medstar Health in Baltimore, by die American College of Cardiology (ACC) se kongres in Atlanta gesê. Bene-Alhasan en sy span het die mediese verslae van meer as 170 000 e-sigaretgebruikers nagegaan en op 3 242 voorvalle van hartversaking afgekom. Hulle het pasiënte uitgesluit wat voorheen sigare, sigarette of waterpype gerook het.
"Ons bevinding wys dat 'n geskiedenis van die gebruik van elektroniese sigarette geassosieer word met 'n verhoogde gevaar van hartversaking," skryf Bene-Alhasan in die ACC se joernaal.
'n Oorsigstudie wat in die New England Journal of Medicine (NEJM) gepubliseer is, toon ook dat die gevaar vir vapers om hartvatsiektes en 'n beroerte te kry soortgelyk is aan dié van gewone rokers. Elektroniese sigarette hou volgens voorlopige navorsing wel 'n laer risiko as tabakgebruik in vir respiratoriese siektes soos asma.
Dié studie onder leiding van dr. Stanton Glantz is 'n samevatting van 'n magdom navorsing wat die afgelope jare wêreldwyd gedoen is.
Hulle dink die idee van tabak is belaglik, want dit ruik en proe sleg.
"Een kwalitatiewe opsomming van ses studies toon dat diegene wat van gewone sigarette na e-sigarette oorslaan 'n laer kans op respiratoriese siektes het, maar daar was nie 'n verandering in (die risiko op) hartvatsiektes nie," skryf Glantz in die NEJM.
"Aangesien e-sigarette dikwels bemark word as minder gevaarlik as sigarette, is die vergelyking wat die meeste belangstelling uitlok oor of e-sigarette beter is vir rokers as gewone sigarette," skryf Glantz. Hy waarsku ook dat 'n groot getal rokers wat e-sigarette begin gebruik, voortgaan om gewone sigarette óók te rook. Dit geld tot 40% van Amerikaanse rokers en 67% van Sweedse rokers. Dit stel hulle bloot aan die gevare van albei.
Boonop begin baie jongmense e-sigarette gebruik terwyl hulle nog nooit gewone sigarette gerook het nie.
"Hiermee is dit belangrik om die gevare van e-sigarette teenoor geen gebruik ook op te weeg."
Onder die uitdagings rondom e-sigarette in Suid-Afrika is die groot aantal jongmense wat dit gebruik - 'n groep wat dit nie eens sou oorweeg om 'n gewone sigaret aan te steek nie, sê prof. Richard van Zyl-Smith, pulmonoloog aan die Universiteit van Kaapstad. "Hulle dink die idee van tabak is belaglik, want dit ruik en proe sleg. Hulle sou nooit gerook het nie, so hulle kies nie e-sigarette bó tabak nie."
Die uitslae van 'n voorlopige studie oor die gebruik van dié produkte in Kaapstad toon dat tot 'n kwart van matrieks by meer gegoede skole e-sigarette rook. Die finale uitslag van die omvattende studie onder skoolkinders word binnekort gepubliseer.
"Vars lug is die veiligste," sê Van Zyl-Smith oor e-sigarette wat aanvanklik as "veiliger" bemark is.

















