Altesaam 610 bevestigde gevalle van masels is vanjaar teen 19 September in Gauteng aangeteken, met 22 nuwe gevalle in die voorafgaande week, lui ’n verslag wat Maandag deur die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios) uitgereik is.
In totaal is 1 100 gevalle landwyd bevestig – meer as die helfte hiervan in Gauteng.
“Daar is landwyd deurlopende masels-uitbrekings. Kinders tussen een en 14 jaar oud word die meeste geraak, met ’n toenemende aantal gevalle onder volwassenes. Die meeste gevalle word in die herfs en lente aangeteken,” sê Nios.
In Gauteng was daar teen 19 September 144 gevalle in Johannesburg, 310 in Pretoria, 132 in Ekurhuleni, 21 in Sedibeng en drie in die Wes-Rand.
Vrystaat, Limpopo, Mpumalanga en die Wes-Kaap
Teen 7 September is 140 gevalle van masels in die Vrystaat aangeteken. Driekwart hiervan was kinders tussen die ouderdom van een en 14.
In Limpopo is 155 bevestigde gevalle teen 19 September aangeteken. Daar was ’n skerp styging in gevalle in die Vhembe-munisipaliteit waar 137 gevalle bevestig is.
Teen 19 September was daar 82 bevestigde gevalle in Mpumalanga, met die meeste hiervan in die Nkangala-munisipaliteit (Middelburg en omstreke).
Die minste gevalle van al die provinsies in die verslag is in die Wes-Kaap aangeteken – 51; die meeste hiervan in Kaapstad
Voorgestelde ingrypings
“Uitbrekings kom voor in gebiede met min inentingsdekking, waar kinders nie ingeënt word nie of onder-ingeënt is. Dit is daarom belangrik om ’n hoë inentingsdekking te handhaaf,” sê Nios.
“Mense moet bewus gemaak word van masels, veral in gebiede met uitbrekings, om gemeenskappe oor die siekte in te lig. Ouers moet ook aangespoor word om hul kinders teen masels in te ent.”
Ander voorgestelde ingrypings deur Nios sluit in om waarneming te versterk, moontlike gevalle van masels by laboratoriums aan te meld vir bevestiging asook landwye inentingsveldtogte vir kinders onder 15.
“Ons dring daarop aan dat provinsies aanhou met geteikende inentingsaktiwiteite en -veldtogte in gebiede met ’n lae inentingsdekking.”
Netwerk24 het Donderdagmiddag navrae gerig aan die Gautengse departement van gesondheid. Die kommentaar sal bygewerk word sodra dit ontvang is.



















