Die nooddienste van die gesondheidsdepartement in die Wes-Kaap het die afgelope feestyd bontgestaan toe byna 70 000 oproepe om mediese hulp in die bestek van 'n maand ontvang is.
Luidens statistieke van die provinsiale departement van gesondheid en welstand was daar in die maand van 15 Desember tot 15 Januarie 'n groter vraag na die dienste van die mediese nooddienste (EMS) en noodgevalle-afdelings.
Van die 69 249 oproepe wat ontvang is en waarop EMS-personeellede gereageer het, was 23 383 voorvalle waarin mense se lewe in gevaar was en 45 866 waar hulle dringend mediese hulp nodig gehad het maar wat minder kritiek was.
Die departement sê dit dui op die noodsaaklike rol wat EMS vervul om na noodgevalle om te sien gedurende een van die besigste tye van die jaar.
Craig Wylie, EMS-direkteur, sê die feestyd plaas uitermatige druk op die EMS-spanne, en die afgelope feestyd was geen uitsondering nie.

Hy het die publiek bedank vir hul geduld en samewerking in die tydperk waarin daar hoë eise aan gesondheidspersoneel gestel is.
Noodgevalleafdelings oor die provinsie heen was net so besig - 120 868 pasiënte is behandel. Van hulle was 29 785 traumagevalle.
Dr. Saadiq Kariem, bedryfshoof van die departement, sê die statistieke toon die druk waaronder mediese noodsentrums in die feestyd geplaas word. Hy sê traumagevalle, waarvan baie vermy kon gewees het, vorm 'n beduidende deel van die mediese noodgevalle.
Die departement het opnuut 'n beroep op die publiek gedoen om self meer verantwoordelikheid te aanvaar en die hulp van die nooddienste te gebruik slegs wanneer hulle lewensbedreigende mediese gevalle het. Vir minder ernstige siektetoestande en beserings moet hulle asseblief na plaaslike klinieke of algemene praktisyns gaan.
Daar moet ook respek wees vir gesondheidswerkers se harde werk onder geweldige druk.
Mireille Wenger, Wes-Kaapse LUR vir gesondheid en welstand, sê te midde van die groot druk op die provinsie se gesondheidstelsel het die helde wat openbare mediese sorg bied, steeds hul toewyding en deernis gewys.


















