Gesondheid

Maselsgevalle in Texas neem toe

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
’n Kind word teen masels ingeënt.  Foto: Argief
’n Kind word teen masels ingeënt. Foto: Argief

Maselsgevalle in Texas, Amerika, neem steeds toe, en Vrydag is die 597ste geval sedert laat Januarie aangemeld, het die staat se gesondheidsdepartement gesê.

Dit is 36 meer as Dinsdag.

Die getal pasiënte wat sedert die uitbreking in die hospitaal opgeneem is, het met vier tot 62 toegeneem. Twee kinders van skoolgaande ouderdom wat nie ingeënt was nie, is reeds dood.

Volgens die departement is die uitbreking hoofsaaklik in die weste van die deelstaat en 4%, of minder as 30, van die bevestigde gevalle kan tans nog ander aansteek.

Die Amerikaanse regering het sewe mense na die staat gestuur om te help om die uitbreking van dié kindersiekte in bedwang te kry.

Volgens die gesondheidsowerhede in Texas word nog gevalle verwag weens die hoogs aansteeklike aard van die siekte.

Die siekte, wat veral ernstig kan wees vir jong kinders, is in 2000 as uitgeroei in Amerika beskou. Maar inentingsyfers het sedertdien gedaal, en net 80% van die bevolking in die Texas-distrik waar die uitbreking begin het, is teen masels ingeënt.

Die nasionale inentingskoers het tot onder 95% gedaal. Dit is die vlak van inenting wat nodig geag word om sogenaamde kudde-immuniteit te bereik, wat beskerming sou bied aan mense wat nie ingeënt is nie. - Reuters

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM