Die digitalisering van gesondheidsrekords in die Oos-Kaap kan volgens die DA help met die afweer van mediese eise teen die provinsie se gesondheidsdepartement.
Dit is landwyd een van die provinsiale gesondheidsdepartemente waarteen die meeste mediese eise ingedien word. Daar dien tans 2 500 mediese eise teen die departement ten bedrae van altesame R22,3 miljard. Die provinsiale departement se begroting vir die 2024-'25-boekjaar is R30,1 miljard.
Die syfers is onlangs deur dr. Aaron Motsoaledi, minister van gesondheid, bekend gemaak op 'n nuuskonferensie waartydens terugvoering gebied is oor die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE) se vordering in sy ondersoek na bedrieglike mediese eise teen die regering.
LEES OOK | álle mediese eise teen staat word ondersoek, sê Motsoaledi
Die SOE het reeds 197 van die 2 500 eise in die provinsie ondersoek.
Hierin is bevind dat een regsfirma identiese eise ingestel het van R15 miljoen elk vir nege kinders wat na bewering serebrale gestremdheid tydens die geboorteproses opgedoen het. Nóg R271,8 miljoen se eise is ook as bedrieglik geïdentifiseer.
Die SOE het ook 45 verwysing van prokureurs aan die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) gemaak vir die oorweging van strafregtelike klagte wat verband hou met bedrog, diefstal, die verduistering van trustfondse en minagting van die hof.
Dr. Vicky Knoetze, DA-leier in die Oos-Kaapse wetgewer, het in reaksie gesê die yslike getal mediese eise teen die Oos-Kaapse gesondheidsdepartement benadruk weer eens die dringende behoefte aan beter rekordhouding.
Sy sê die feit dat 'n enkele regsfirma daarin kon slaag om meer as R400 miljoen se beweerde bedrieglike eise in te dien, is 'n aanduiding van die groot leemtes wat tans deur die papier-gebaseerde stelsel van rekordhouding veroorsaak word.
"Hierdie gebrek aan doeltreffende en veilige rekordhouding skep die geleentheid vir wydverspreide bedrog en gekompromitteerde pasiëntsorg."
Die digitalisering van gesondheidsrekords is volgens Knoetze 'n belangrike strategie om bedrieglike mediese eise af te weer, asook vir die bestuur van sulke eise.
Sy het 'n beroep op Oscar Mabuyane, Oos-Kaapse premier, gedoen om die digitaliseringsproses by al die provinsie se gesondheidsgeriewe te versnel.
'n Eenheid wat die mediese eise teen die provinsie se gesondheidsdepartement bestuur, is in Mabuyane se kantoor gesetel.

Ntandokazi Capa, LUR vir gesondheid, het vroeër die week met die bekendstelling van nuwe kankerbehandelingstoerusting by die Livingstone-hospitaal in Gqeberha erken dat die mediese eise die departement nie met veel beweegruimte laat nie.
Capa het benadruk dat nie al die mediese eise gronde het nie. "Daar is ongelukkig sommige mense wat die departement wil leegtap, ons wil verlam en wil verhoed dat ons dienste aan ons mense lewer.
"Meer as 90% van die provinsie se inwoners maak staat op openbare gesondheidsdienste, wat beteken hulle sal sonder dienste gelaat word as die departement bankrot is."
In die 2023-'24-boekjaar is 192 nuwe mediese eise teen die departement ingedien. Dit is volgens die departement 'n afname van byna 65% teenoor die 2017-'18-boekjaar se rekordgetal eise van 553.
Die departement skryf die daling toe aan sy geïntegreerde strategie wat saam met die premier se kantoor, die provinsiale tesourie, die nasionale tesourie en die nasionale gesondheidsdepartement toegepas word.
Dit het onder meer ten doel om administratiewe stelsels en die regsverdediging van huidige sake te versterk, asook om kliniese en forensiese ingrypings te verbeter wat die risiko van toekomstige litigasie verminder.



















