As dit van dr. Aaron Motsoaledi, minister van gesondheid, afhang, sal mediese eise teen die staat in die nabye toekoms nie meer deur howe besleg word nie.
Hy het Woensdag in die parlement voorgestel dat 'n "regverdiger" vergoedingsmeganisme vir veral slagoffers van mediese nalatigheid ontwerp word.
Motsoaledi het LP's in 'n gesamentlike sitting van die portefeuljekomitee vir gesondheid, die staande komitee oor toedelings en die staande komitee oor openbare rekeninge ook versoek om hom deur parlementêre prosesse te help om dit te verwesenlik.
Volgens hom het veral die Skandinawiese lande al bewys dat 'n regverdiger vergoedingsmeganisme vir sulke mediese eise moontlik is.

"Dit behels panele van afgetrede regters, senior mediese en verpleegpersoneel, prokureurs, maatskaplike werkers ensovoorts. Hul doel is dan om billike vergoeding te bepaal vir diegene wat mediese beserings ervaar het eerder as in 'n ‘regs-skietgeveg in die hof'."
Dit kan waarborg dat baie mense wat dit verdien, vergoed word eerder as om aan lang en eindelose hofsake onderwerp te word waarvan die uitslag onseker kan wees.
"Ons wil hierdie weg inslaan," het Motsoaledi aan LP's gesê.
Die regering verwerp die misbruik van hofsake en bedrieglike eise, maar mediese beserings weens byvoorbeeld nadelige gebeurtenisse, nalatigheid, mediese wanpraktyke en onetiese gedrag deur gesondheidswerkers is 'n werklikheid, sê hy.
Motsoaledi het vroeër bekend gemaak dat die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE) belastingbetalers al meer as R3 miljard aan uitbetalings weens bedrieglike mediese eise gespaar het nadat sy departement sedert 2015 'n "ontploffing" van mediese eise beleef het.
Motsoaledi het toe ook gesê dat die nege provinsiale gesondheidsdepartemente van 2015 tot 2020 meer as R7 miljard aan mediese eise uitbetaal het.
Hy het Woensdag aan LP's benadruk dat hy hou by sy "aanbod" aan prokureurs wat wetend bedrieglike mediese eise teen die regering ingedien het, om dit terug te trek as hulle verdere stappe daaroor wil vermy. "Indien nie, sal die SOE vir julle kom," het hy weer gewaarsku.
Hy neem die kwessie van bedrieglike mediese eise baie ernstig op, veral omdat die dokters wat meesal geteiken word, verloskundiges en ginekoloë, neurochirurge, spinale chirurge en ortopediese chirurge is.
"Die gevolg is dat hierdie spesialiste baie moet betaal om mediese vrywaringsversekering te koop. Om as 'n verloskundige te praktiseer, moet jy R1,3 miljoen aan mediese vrywaringsversekering per jaar betaal.
"Uiteraard vermy baie dokters dit om in verloskunde en ginekologie te spesialiseer. Diegene wat reeds gekwalifiseer het, sal verloskunde vermy en in hul praktyk by ginekologie hou. Dít spel ondergang vir swanger vroue in ons land."
Volgens Motsoaledi het hy ook sy departement opdrag gegee om dringend 'n tender te adverteer vir 'n diensverskaffer met regs- en forensiese ondersoekvaardighede wat kan help om bedrieglike mediese eise teen die departement vroegtydig uit te snuffel.
So 'n diensverskaffer sal ongeldige of bedrieglike mediese eise makliker kan uitwys "as wat ons amptenare kan".



















