Gesondheid

‘Staphylococcus’-infeksies in Pta ‘is geen rede tot kommer’

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Die 30 mense in die noorde van Pretoria wat 'n Staphylococcus-infeksie het, is geen rede tot kommer nie.

Dr. Angelique Coetzee, gerespekteerde dokter en deel van Solidariteit se doktersnetwerk, sê dis 'n algemene bakterie wat op die meeste mense se vel voorkom.

Dié gerusstelling kom nadat die VF Plus in Tshwane die metro se departement van gesondheid Donderdag gewaarsku het oor die uitbreking van " 'n Staphylococcus-infeksie nadat sowat 30 mense reeds by die Jack Hindon-kliniek in Pretoria-Noord daarvoor behandel is".

Rina Marx, VF Plus-raadslid in die metro, sê 'n bekommerde inwoner het dié party gekontak omdat "die behandeling by die kliniek nie doeltreffend was nie en infeksies besig is om verder onder mense te versprei".

Die betrokke mense woon volgens haar op 'n kleinhoewe naby Pretoria-Noord.

Marx sê die algemeenste simptome onder dié mense is rooi opgehewe knoppe, 'n velinfeksie en sere met 'n etterige afskeiding.

"Koors kan in meer ernstige gevalle voorkom."

Coetzee, voormalige voorsitter van die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging, sê egter "Staphylococcus is iets wat ons gereeld sien. Dis regtig ook nie hoogs aansteeklik nie. Daar is geen rede tot kommer nie."

Sere aan 'n inwoner van Pretoria-Noord se arm en hand weens 'n ‘Staphylococcus'-infeksie. Foto: Verskaf
Sere aan 'n inwoner van Pretoria-Noord se arm en hand weens 'n ‘Staphylococcus'-infeksie. Foto: Verskaf

Staphylococcus reageer volgens haar baie goed op antibiotika soos penisillien met 'n kombinasie van klavulaansuur.

"As die immuunstelsel af is of die vel se oppervlak beskadig word, met ander woorde as daar 'n krapmerk aan die vel is, kan Staphylococcus 'n velinfeksie veroorsaak. As 'n haarfollikel ontsteek, kan 'n pitsweer ontstaan. Ons sien dit baie keer as 'n pasiënt haar onderarmhare skeer en die vel word stukkend."

Salf word gebruik wanneer daar 'n klomp sere bymekaar is, soos op die boude, of neus en bolip.

Die neus en anus kan bronne van Staphylococcus wees, sê sy.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM