Gesondheid

Trump-bevel: Opskorting van hulp tref armstes, hoor Wes-Kaapse wetgewer

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Pres. Donald TrumpFoto: Getty Images
Pres. Donald TrumpFoto: Getty Images

Dit is die armstes en kwesbaarstes wat die meeste gaan ly weens die besnoeiing van geldelike bystand van Amerika aan programme vir MIV en tuberkulose (TB).

Die Wes-Kaapse departement van gesondheid het Vrydag gesê sy dienste word grotendeels nie geraak deur die miljoene dollars se finansiering wat weens 'n bevel van pres. Donald Trump op ys geplaas is nie, maar wel sy vennote wat in gemeenskappe werk om dié siektes te behandel en voorkom.

Die provinsiale wetgewer het gehoor dat 10 organisasies sonder winsbejag tans R365 miljoen kwyt is as gevolg van die bevel wat Trump in Januarie uitgevaardig het en 698 personeellede kan hul werk verloor.

Mireille Wenger Foto: Gallo Images
Mireille Wenger Foto: Gallo Images

Mireille Wenger, LUR vir gesondheid, het die oggend gesê die provinsie het oor die jare goeie betrekkinge met die buiteland gebou, wat Amerika insluit, in die stryd om MIV en TB te bestry.

"Dit was geweldig voordelig vir die kwesbaarste mense in die provinsie en het ons in staat gestel om beter werk te verrig."

Sy het aan die staande komitee oor gesondheid en welstand gesê die jongste verwikkelings het erge onsekerheid en tekorte aan finansiering veroorsaak, terwyl die departement met organisasies saamwerk om 'n plan te beraam en hul risiko's te versag.

Trump het verlede maand beveel dat alle finansiering aan buitelandse hulporganisasies vir 90 dae gestaak word, hangende die hersiening van dié besteding.

Op 30 Januarie het die departement 'n kennisgewing ontvang dat $10 miljoen (R183 miljoen) van Amerika se agentskap vir internasionale ontwikkeling (USAid) bevries word.

Dr. Saadiq Kariem, bedryfshoof van die departement, het verduidelik dat die bedrag in 2021 vir 'n tydperk van vyf jaar vir programme vir vrywillige besnydenis en die behandeling van TB en MIV toegestaan is.

Hy het aan die komitee gesê die gesondheidstelsel was reeds onder druk weens die uitbreking van siektes en die druk op dienslewering en finansies nog voor Trump se bevel.

Ander dienste wat geraak word, sluit in die uitdeel van kondome en medikasie, dataversameling, asook twee klinieke wat gesluit het wat deur organisasies sonder winsbejag gefinansier word.

Dié klinieke bedien mans, sekswerkers en transgender mense.

In reaksie op die besnoeiings werk die departement aan die digitalisering van registers van pasiënte met TB en MIV en die uitreik van ses maande se antiretrovirale middels aan pasiënte om die druk op sy geriewe te verlig en ononderbroke behandeling te lewer.

Wenger het daarop gewys dat die provinsiale regering oor die jare 'n punt daarvan gemaak het om toe te sien dat daar nie op bystand en toelaes van die buiteland vir dienslewering staatgemaak word nie.

Dit beteken dat antiretrovirale middels uit die departement se begroting gekoop en gesondheidspersoneel uit sy eie sak betaal word.

"Die finansiering vir MIV- en TB-programme het grootliks op tegniese ondersteuning, dataversameling en die versterking van die gesondheidstelsel gefokus."

Intussen word daar gekyk na watter programme van die organisasie deur die departement gedek of gestaak moet word, of waarvoor alternatiewe finansiering gevind moet word.

Die nasionale regering is ook genader om te eis dat 'n gekoördineerde strategie saamgestel word om oor die provinsie heen saam te werk om uitdagings die hoof te bied.

Vandeesmaand is berig dat Amerika se sending in Suid-Afrika gesê het die finansiering van programme wat lewensbelangrike dienste lewer, sal nie opgeskort word nie, wat toetsing, behandeling en die voorkoming van MIV en TB insluit.

Volgens USAid se webwerf is hulp van $323,4 miljoen (meer as R6 miljard) in die boekjaar 2024-'25 aan die land verskaf.

Dr. Aaron Motsoaledi, minister van gesondheid, het vroeër aan die parlement gesê sowat 7,8 miljoen mense in Suid-Afrika het MIV/vigs onder lede en die begroting vir ondersteuningsdienste vir die siekte in 2024-'25 beloop R46,8 miljard.

- malherbe.nienaber@24.com

• Volg die regstreekse uitsending hier.

LEES OOK | Pepfar: VSA sê finansiering van MIV/vigs-programme sal voortgaan

LEES OOK | Pepfar: Planne vir klinieke en hospitale gereed om Trump-storm te oorleef

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM