Gesondheid

VSA se staking van hulpfondse gaan Afrika hard tref – WGO

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Amerika se staking van hulpfondse én sy "Bevrydingsdag"-tariewe gaan die openbare gesondheidsektore van veral Afrika-lande suid van die Sahara hard tref, sê die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO).

Die WGO loof egter Suid-Afrika wat ná pres. Donald Trump se staking van Pepfar-fondse in Februarie in sy begroting vir vanjaar 'n bykomende $1,5 miljard (sowat R28,8 miljard) vir gesondheidsdienste goedgekeur het. Pepfar staan vir die Amerikaanse presidensiële noodplan vir vigsbystand.

Dr. Aaron Motsoaledi, minister van gesondheid, het Donderdag gesê gesprekke is aan die gang met verskeie internasionale skenkers om die gaping aan te vul wat die Pepfar-krisis geskep het. MIV- en vigs-pasiënte word veral in Suid-Afrika geraak nadat Trump beveel het dat sy regering alle finansiering aan buitelandse hulporganisasies vir 90 dae staak.

Pepfar het 17% van Suid-Afrika se MIV-vigs-program gedek.

Vroeër is berig dat Suid-Afrika sowat R6 miljard in Pepfar-finansiering in 2024-'25 ontvang het.

Dr. Tedros Adhanom Ghebreyesus, direkteur-generaal van die WGO, het Donderdag op 'n nuuskonferensie by die WGO-hoofkantoor in Genève, Switserland, gesê die organisasie het terugvoering van 100 lidlande oor die impak van die gestaakte Amerikaanse hulpfondse ontvang.

"Driekwart van die lande se gesondheidsdienste is ernstig ontwrig, terwyl gesondheidsgeriewe in 'n kwart moes sluit.

"Ons sien ook verhoogde uit-die-sak-betalings vir gesondheidsorg in 'n kwart van die lande. Hulle meld ook werksverliese vir gesondheids- en versorgingswerkers asook ontwrigtings aan inligtingstelsels en die verskaffing van medisyne en gesondheidsprodukte," sê Ghebreyesus.

Motsoaledi het vroeër in die parlement erken dat die gestaakte Pepfar-fondse "rampspoedig" is vir die meer as 15 000 werknemers van hulporganisasies in Suid-Afrika wat deel was van die MIV-vigsprogram wat hul werk verloor het.

Hy benadruk egter dat die gestaakte Pepfar-fondse nie Suid-Afrika sal verhinder om steeds antiretrovirale middels (ARV) aan al die 5,5 miljoen MIV-positiewe mense te voorsien nie. Dit is omdat Suid-Afrika self vir 90% van alle ARV-aankope betaal en die Global Fund vir die res.

Dr. Tedros Adhanom Ghebreyesus, direkteur-generaal van die WGO. Foto: Getty Images
Dr. Tedros Adhanom Ghebreyesus, direkteur-generaal van die WGO. Foto: Getty Images

Ghebreyesus het Donderdag gesê dat die WGO al vir jare met geraakte lande werk om hulle te ondersteun om weg te beweeg van hulpafhanklikheid na volhoubare selfstandigheid. Die proses word nou versnel.

Oor Trump se "Bevrydingsdag"-tariewe het dr. Kalipso Chalkidou, direkteur van gesondheidsfinansiering en -ekonomie by die WGO, op die nuuskonferensie gesê dit is 'n "groot probleem".

"Dit lyk veral of Afrika-lande suid van die Sahara, waarvan sommige van die armstes is met die swakste ekonomieë, die ergste getref word.

" 'n Groot deel van lande soos Lesotho, Madagaskar en Ivoorkus se bruto binnelandse produk kan deur die tariewe uitgewis word indien dit volgehou word.

"Dit is ook die einste lande wie se hulpfondse, of 'n groot deel daarvan, van die VSA gekom het en wat kritiek was om hul gesondheidstelsel te finansier."

Volgens Chalkidou is die meeste Afrika-lande netto invoerders van farmaseutiese produkte.

"As 'n mens die meer algemene finansiële krisisse in dié lande byreken by die devaluasie van hul geldeenhede en uitgeputte buitelandsevalutareserwes, gaan hul rekeninge vir die invoer van farmaseutiese produkte werklik groter word.

"Pepfar- en USAid-hulpfondse het ook medisyne vir spesifieke siektes soos MIV, tuberkulose en malaria in hierdie lande aangekoop en daardie bronne is nou onbepaald bevries.

"Dit is dus 'n baie kritieke situasie," sê Chalkidou.

- llewellyn.prince@24.com

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM