'n Nuwe soort behandeling word van vandeesweek op die proef gestel as laaste hoop vir 'n bloedkankerpasiënt van Polokwane in Limpopo.
Sou dié mediese proefneming met 'n soort sellulêre teikenterapie slaag, kan die 33-jarige vrou, wie se identiteit beskerm word, moontlik genees word van haar terminale kanker.
Dr. Jackie Thomson, hematoloog en direkteur van stamselnavorsing aan die Universiteit van die Witwatersrand se Donald Gordon-sentrum vir sellulêre en immunoterapie, het met dr. Patrick Soon-Shiong, wêreldbekende chirurg en sakeman, saamgewerk om kwaadaardige selle in kankerpasiënte te bestry met gewysigde natuurlike moordenaarselle, oftewel natural killer (NK) cells.
Die NK-selle is deel van die liggaam se witbloedselle wat die mens teen siektes moet beskerm, 'n soort immuun-sel met korrels (klein deeltjies) ensieme wat tumorselle of selle wat deur 'n virus besmet is en kwaadaardig raak, kan doodmaak.
Dié wonderselle van 'n skenker kan aangepas word vir doeltreffende gebruik teen ernstige siektes in ontvangers.
Met die nuwe terapie word gehoop die aangepaste NK-selle van 'n skenker sal 'n pasiënt genees. NK-selle is ook nie mens-spesifiek nie en selle kan dus onderling vir mekaar gebruik word.
"Hoewel proefnemings al gedoen is met ander uitwisselle, is dié een met 'n spesifieke NK-sel 'n wêreldeerste," sê Thomson se woordvoerder, Sonnette Lombaard.
"Dit word tans gegee aan 'n limfoompasiënt by Wits se stamseloorplantingseenheid in die hoop dat dit haar sal genees van haar terminale kanker."
Dit behels die wysiging van 'n skenker se NK-selle wat dan aan die pasiënt toegedien word. Dit bied 'n minder ingrypende en moontlik meer doeltreffende behandeling as bestaande terapieë.
"Nadat Thomson toestemming gekry het om die spesifieke selle as deel van die revolusionêre NK-terapie uit te toets, het sy nuwe hoop.
"Die voordeel van NK-terapie is dat dit minder ingrypend is as bestaande soortgelyke behandelings soos lewensbedreigende stamseloorplantings vir bloedkanker en ander gevreesde siektes.
"Voorts is dit as 'n opsie beskikbaar in armer lande met kleiner gesondheidsbegrotings soos dié van Suid-Afrika."
Soon-Shiong, 'n boorling van Port Elizabeth wat deesdae in Amerika woon, is die baasbrein agter die middel Abraxane wat doeltreffend teen long-, bors- en pankreaskanker gebruik word.
ImmunityBio, een van sy maatskappye, het in 2021 'n Covid-19-entstof geskep waarvan die fase 3-proewe in Suid-Afrika gedoen is.
Die proefneming wat vandeesweek begin, is vir Thomson 'n lewensdroom wat waar word. Sy het ná die eeuwisseling die eerste stamseloorplantingseenheid by die Pretoria-Oos-Hospitaal begin en was later aan die stuur van sake by die Suid-Afrikaanse Bloeddiens.
Sy meen dié pasgemaakte behandeling sal nie net vir bloedkankers nie, maar uiteindelik ook vir ander kankers en eietydse virusse ingespan kan word.
Thomson het onlangs die nuwe hoofkampus van Wits se Donald Gordon-sentrum vir sellulêre en immunoterapie in Parktown, Johannesburg, betrek.


















