
Hoewel die Universiteit van Kaapstad (UK) vier plekke op die jongste wêreldranglys van universiteite afgeskuif het, is dit steeds die beste universiteit in Afrika.
Die UK is nou die 275ste beste universiteit ter wêreld, terwyl die Universiteit van die Witwatersrand met een plek na die 292ste plek en die Universiteit Stellenbosch met 18 plekke na 458ste teruggesak het.
Die Universiteit van KwaZulu-Natal het van 482ste na 505de teruggesak en die Universiteit van Pretoria van 538ste na 557ste.
Die Universiteit van Johannesburg (UJ) en die Noordwes-Universiteit (NWU) het egter verbeter - die UJ van 624ste na 607ste en die NWU van 869ste na 860ste.
Die Universiteit van die Vrystaat het van 1 127ste op die ranglys na 1 141ste afgeskuif, terwyl die Universiteit van Suid-Afrika van 1 293ste tot 1 224ste verbeter het.
Dit is die 14de jaar dat die wêreld se 2 000 beste universiteite uit 21 462 instellings op hierdie ranglys aangewys word. Die vyf beste universiteite vir 2025 is:
1. Harvard-Universiteit
2. Massachusetts-Instituut vir Tegnologie
3. Stanford-Universiteit
4. Universiteit van Cambridge
5. Universiteit van Oxford
Die Sentrum vir die Universiteit-wêreldranglys gradeer universiteite op grond van vier kriteria: onderwys (25%); indiensneembaarheid (25%); fakulteit (10%); en navorsing (40%).
Vir vanjaar se ranglys is 74 miljoen uitkomste-gegronde datapunte ontleed, sê die sentrum in 'n verklaring.
Agt Amerikaanse universiteite verskyn onder die top-10, maar China is die land met die meeste universiteite onder die top-2 000, naamlik 346. Die VSA is tweede met 319.
Japan, met die Universiteit van Tokio op no. 13, het 107 universiteite onder die top-2 000 en Brittanje het 89.
Die sentrum beskryf homself as 'n toonaangewende konsultasie-organisasie wat beleidsadvies, strategiese insigte en konsultasiedienste aan regerings en universiteite bied en sodoende opvoedkundige en navorsingsuitkomste verbeter.

















