Die streekhof in Molteno het Ndumiso Nkala, Evans Sibanda en Philemon Sithole Woensdag gevonnis nadat hulle voorheen skuldig bevind is aan die diefstal van koperkabels, die besit van gesteelde eiendom en die oortreding van die Immigrasiewet.
Al drie is Woensdag gevonnis tot 15 jaar tronkstraf vir die diefstal van koperkabels, 15 jaar vir die besit van koperkabels en drie maande vir die oortreding van die Immigrasiewet.
AO Ndiphiwe Mhlakuvana, Valke-woordvoerder, sê die hof het beslis dat die vonnisse gelyklopend uitgedien word. Nkala, Sibanda en Sithole sal dus elk 15 jaar direkte tronkstraf uitdien.
Die saak teen hulle spruit uit ’n polisie-optrede op 5 Desember 2021, toe polisiebeamptes in Molteno twee voertuie onderskep het wat vermoedelik gesteelde kabels in die Stormburg-omgewing vervoer het.
Vier verdagtes het te voet gevlug, maar die polisie het daarin geslaag om drie van hulle in hegtenis te neem, het Mhlakuvana gesê. Daar is beslag gelê op ’n Jeep gelaai met koperkabels, terwyl ’n wit Isuzu-bakkie op die toneel verlate gelaat is.
’n Vierde verdagte, Mutemba Edwardo, het gevlug nadat hy borgtog toegestaan is en is steeds ’n voortvlugtige. ’n Lasbrief vir sy inhegtenisname is uitgereik, het Mhlakuvana gesê.
Genl.maj. Mboiki Obed Ngwenya, hoof van die Valke in die Oos-Kaap, het die uitspraak verwelkom en die ondersoekers vir hul werk geprys.















