Sedert die Beloftebos-saak in 2020 by die gelykheidshof in Kaapstad ingedien is, het feitlik geen vordering daaroor plaasgevind nie.
Regter Mark Sher het Dinsdag ’n voorverhoor in dié saak behartig waar hy sy ernstige kommer oor die saak uitgespreek het, spesifiek oor hoekom dit die afgelope vyf jaar glad nie vordering gemaak het nie.
Hy het gesê nie net hy nie, maar ook die regter-president van die hooggeregshof in die Wes-Kaap, is van mening dié saak moet spoedig afgehandel word.
Die voorverhoor is virtueel gehou en die media het toestemming bekom om dit by te woon.
Volgens Sher was die doel van die vergadering om verskeie kwessies te hanteer, onder meer:
- Die huidige status van die saak wat vyf jaar gelede aanhangig gemaak is en steeds nie aangehoor is nie; en wanneer dit vir verhoor ter tafel gelê kan word;
- Enige tussentydse aansoeke wat moontlik hangende is en wanneer en hoe dit gehanteer moet word;
- Ander uitstaande prosedurele stappe wat gedoen moet word, indien enige, sodat die saak verhoorgereed gemaak kan word, en wanneer en hoe dit gehanteer moet word;
- Die vorm waarin die verhoor gehou moet word (in ’n ope hof en/of op ’n virtuele platform) en of die partye tot hul beëdigde verklarings beperk sal word of ook viva voce-bewyse sal indien;
- Of daar ’n moontlikheid is dat die saak vir beslegting deur bemiddeling verwys kan word, en indien wel, wanneer en hoe hierdie proses onderneem moet word;
- Hoeveel dae vir die verhoor benodig word; en
- Wanneer, en die volgorde waarin, betooghoofde ingedien sal word.
Agtergrond
Die saak spruit uit die gebeure in Januarie 2020 toe Beloftebos Sasha-Lee Heeks en Megan Watling glo weggewys het toe hulle navraag begin doen het oor die moontlikheid om by dié venue te trou.
Die gay paartjie het intussen by die Natte Valleij-wynlandgoed in Klapmuts getrou.
Die egpaar (Heeks en Watling) wou Beloftebos voor die hof daag, maar die Menseregtekommissie (MRK) het Andries en Coia de Villiers, die eienaars, eerste na die gelykheidshof gesleep.
Die egpaar het toe ’n aansoek ingedien om as tussentydse applikant tot die saak toegelaat te word en word nie deur die MRK verteenwoordig nie.
Hulle voer aan Beloftebos het hul regte geskend.
Beloftebos staan die saak teen en voer in hofstukke aan die vroue is op grond van die eienaars se geloofsoortuigings weggewys.
Die egpaar meen egter die De Villierse kruip weg agter die skans van geloof.
Dit was die tweede keer dat Beloftebos ’n gay paartjie weggewys het nadat die venue in 2017 ook nie wou toelaat dat Alex Thorne en Alex Lu daar trou nie.
Sedertdien het die venue besluit om nie meer troues te akkommodeer nie.
Datums voorlopig bevestig
Sher het Dinsdag die partye die kans gegun om te verduidelik hoekom die saak al vyf jaar lank sloer, met feitlik geen vordering wat gemaak is nie.
Daar is tans ook nog die aansoek om as tussentydse applikant toegelaat te word en ’n aansoek van ’n onbekende organisasie om as amicus curiae toegelaat te word. Dié aansoeke is ook nog nie aangehoor nie.
Adv. Uday Naidoo, wat vir die MRK optree, het Sher toe meegedeel dat die MRK en Beloftebos Maandag ooreengekom het om die saak te bemiddel. Naidoo het gesê Beloftebos sal name van arbiters aan hulle stuur en die MRK sal een kies om die bemiddeling te hanteer. Hy het gesê die partye wat die tussentydse aansoeke ingedien het, sal die geleentheid gegun word om skriftelike vertoë tydens die bemiddeling in te dien, maar hulle sal nie as partye geag word nie. Hierna sal die arbiter se verslag aan die hof gegee word vir oorweging en bekragtiging.
Sher was tevrede dat ’n punt bereik is waar die partye ingestem het om die saak te laat bemiddel, al was dit ’n dag voor die voorverhoor.
Die egpaar se regsverteenwoordiger was nie ten gunste van die reëling nie omdat, volgens die egpaar, hulle sedert die begin van die saak geïgnoreer en na die kantlyn geskuif word. Die hof het gehoor hoe die egpaar die laaste paar jaar hard probeer het om hul aansoek deur die hof te laat aanhoor, maar daar is altyd vir hulle gesê daar word bemiddel en die aansoek kan dus nog nie aangehoor word nie.
Sher het later sy bekommernis hieroor uitgespreek en gesê omdat hulle nog nie as party toegelaat is nie, kan hulle die versoek nie ingevolge die reg teenstaan nie.
Die partye het verskeie beloftes aan die hof gemaak oor die pad vorentoe, tydlyne en wanneer ’n arbiter aangestel sal word.
Die tydlyne sal nou in ’n bevel geformuleer word wat die partye tot Vrydag het om by Sher in te dien, sodat hy dit kan bekragtig.
As mediasie misluk, sal saak aangehoor word
Die tydlyn bepaal dat ’n arbiter teen middel Desember aangewys moet word en die bemiddeling teen middel Maart afgehandel moet word. Indien die bemiddeling onsuksesvol is, het Sher duidelike datums vir die indiening van betooghoofde en die tussentydse aansoeke bevestig.
Naidoo het bevestig die MRK staan nie die aansoek vir die amicus curiae teen nie, hy sal die hof se besluit oor die tussentydse aansoek deur die egpaar handhaaf en dat geen getuienis in die verhoor aangevoer sal word nie.
Adv. Andrew Duminy, Beloftebos se regsverteenwoordiger, het met twee aspekte saamgestem, maar gesê hulle sal die egpaar se aansoek teenstaan. “Dit sal op sigself die saak baie meer kompleks maak,” het Duminy gesê.
Sher het twee datums einde Mei voorlopig bevestig vir die aanhoor van die saak, indien die bemiddeling misluk. Hy het gesê die tussentydse aansoeke sal begin Mei aangehoor word.
“Ek wil nie hê hierdie saak moet tot middel volgende jaar uitgerek word nie. Ek is hier om seker te maak die saak word afgehandel,” het Sher gesê.
















