’n 47-jarige man van Bethlehem is skuldig bevind daaraan dat hy bedrieglik aansoek gedoen het vir die Tydelike Werknemersverligtingskema (Ters) namens spookwerkers.
Thapelo Alfred Lephondo (47) en sy maatskappy, Thaps Financial Solutions, is Donderdag in die landdroshof in Bethlehem aan bedrog en geldwassery skuldig bevind.
Lephondo is gevonnis tot ’n boete van R500 000 of ses jaar gevangenisstraf vir bedrog. Hy is ook gevonnis tot 36 maande regstellende toesig vir geldwassery.
Thaps Financial Solutions is gevonnis tot ’n boete van R100 000 vir bedrog, wat opgeskort is vir vyf jaar, en ’n boete van R500 000 vir geldwassery, ook opgeskort vir vyf jaar.
Die Werkloosheidsversekeringsfonds het ’n bedrag van R908 287,28 in die bankrekening van Thaps Financial Solutions betaal.
’n Saak is geregistreer en na die Valke se eenheid in Betlehem verwys, wat gelei het tot Lephondo se inhegtenisneming.


















