Hof

Chinese swaar gestraf weens mensehandel, kinderarbeid

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Die Chinese in die hooggeregshof in Johannesburg. Hulle is swaar gestraf weens mensehandel en kinderarbeid.
Die Chinese in die hooggeregshof in Johannesburg. Hulle is swaar gestraf weens mensehandel en kinderarbeid. (Foto: Verskaf)

Johannesburg is ’n “Beautiful City” wat sewe Chinese nie gou weer vrylik sal sien nie.

Die hooggeregshof in die Goudstad het Woensdag die bestuurders en toesighouers van Beautiful City, ’n winkel in Village Deep, tot effektief 20 jaar tronkstraf gevonnis. Boonop is die onderneming met R300 000 beboet.

Kevin Tsao Shu-Uei, Chen Hui, Qin Li, Jiaqing Zhou, Ma Biao, Dai Junying en Zhang Zhilian is in Februarie vanjaar skuldig bevind op 158 van 160 aanklagte van onder meer mensehandel en kinderarbeid, asook die oortreding van ’n rits arbeidswette, waaronder dié verbandhoudend met die nasionale minimum loon en beroepsgesondheid en -veiligheid.

Die groep is in November 2019 in hegtenis geneem nadat die departement van arbeid en van binnelandse sake, asook die Valke, ’n wenk ontvang en op die winkel toegeslaan het. 91 Malawiërs, onder wie 37 minderjariges, is toe uit ’n fabriek op die perseel gered.

Borgtog is vroeg in 2020 aan die beskuldigdes toegestaan, maar Zhilian is sedert Februarie 2021 weer in aanhouding nadat sy landuit vanaf die O.R. Tambo-lughawe probeer vlug het. Volgens die staat het die groep die land met vakansie- en aftreevisums binnegekom.

Ál sewe het in April 2021 skuld op die 160 aanklagte ontken.

Almal behalwe Junying is sedert die skuldigbevinding in Februarie in aanhouding. Junying se borgtog is tot die vonnisoplegging verleng weens mediese redes.

Dit het in die verhoor aan die lig gekom dat die Malawiërs in skeepshouers na Suid-Afrika gebring is om die katoen van klere vir beddegoed te verwerk. Hulle het in die fabriek by die winkel gewerk en gewoon.

Werkers het getuig hulle is ’n skamele R65 per dag betaal vir 11 uur se arbeid, sewe dae ’n week. Geen loon is tydens siekverlof betaal nie en indien iemand nie oor ’n naweek gewerk het nie, word R40 van hul loon die Maandag en Dinsdag afgetrek.

Werkers kon nie die perseel vrylik verlaat nie en kon goedere slegs by die winkel daar teen hemelhoë pryse koop. Boonop is hulle met vuurwapens gedreig as opdragte nie spoedig of reg uitgevoer is nie.

‘Geen berou’

Die staat ag mensehandel ’n afgryslike misdaad wat teen ’n enorme koers oor die land heen versprei. Adv. Valencia Dube, staatsaanklaer, het die hof verlede week in die voorvonnisverrigtinge gevra om ’n “sterk boodskap” aan boosdoeners te stuur “wat dink dis hoe sake in Suid-Afrika gedoen word”.

Sy het ter verswaring die hof daaraan herinner dat ses van die sewe beskuldigdes nie in die verhoor wou getuig nie. Niemand het na haar mening ook berou getoon nie.

Adv. Zweli Zakhe, vir die verdediging, het die hof daarop gewys dat die beskuldigdes inderwaarheid werknemers is en die eintlike skuldige nog nie aangekeer is nie.

Hoewel die eienaar van Beautiful City, ene “mnr. Chang”, nog soek is, het waarnemende regter David Mhango aanvaar dat die beskuldigdes vir die bedrywighede verantwoordelik was en opdragte uitgedeel het.

Die departement van maatskaplike ontwikkeling se proefbeamptes het Hui en Zhou onrehabiliteerbaar bevind, berig News24. Hui het glo geen berou nie en weier om verantwoordelikheid vir sy misdade te aanvaar, terwyl Zhou in sy onskuld volstaan.

Die hof moes verlede Donderdag verdaag nadat Junying in trane uitgebars het terwyl ’n proefbeampte oor haar getuig het. Die proefbeampte het getuig dat Junying, wat glo weens ’n beroerte in ’n rolstoel is, sedert haar inhegtenisneming twee keer haarself om die lewe probeer bring het.

Sy neem ook medikasie wat vir die behandeling van beroertes bedoel is sonder ’n voorskrif, lui News24 se berig.

Vonnis

Hoewel die beskuldigdes nie van die misdade vrygespreek word deur die vinger na “mnr. Chang” te wys nie, het die hof om dié rede van die voorgeskrewe minimum vonnis afgewyk.

Nietemin sê Mhango hy het die erns van die misdade en die impak daarvan op die samelewing goed opgeweeg. Hy het daarop gewys dat van die onwettige werkers gedwing is om met gevaarlike masjinerie te werk wat sommige hul ledemate en sig gekos het.

Mhango meen kinderarbeid, die uitmergelende werkure en geen siekverlof kan ook nie geregverdig word nie.

Elk van die sewe beskuldigdes is 20 jaar tronkstraf opgelê weens mensehandel, 10 jaar weens ontvoering en 20 jaar weens die oortreding van arbeidswette. Shu-Uei is tot ’n verdere drie jaar tronkstraf gevonnis weens finansiële wanbestuur.

Die vonnisse sal gelyklopend uitgedien word, wat beteken elkeen is effektief 20 jaar tronkstraf opgelê. Beautiful City (Edms.) Bpk. is ook met R300 000 beboet.

‘Eienaar in Jhb’

Junying (64) het nie ’n volledige mediese verslag wat haar beroerte staaf ingedien nie en die hof het haar doktersbrief verwerp.

Luidens die doktersbrief behandel sy haarself tuis, het Mhango gesê.

Junying se dogter, Nancy Xiao, was woedend toe die hof verdaag. “As my ma tronk toe gaan, gaan sy sterf!” het sy geskree.

Sy het aan die media gesê Beautful City het inderwaarheid vier grootbase, van wie twee in Suid-Afrika is. Sy het ook voet by stuk gehou dat die eienaar in Bruma, Johannesburg, woon.

Xiao beweer die beskuldigdes het dit stil gehou uit vrees vir hul lewe.

Katlego Mogale, Valke-woordvoerder, sê haar aantygings sal opgevolg word.

– quinton.lourens@media24.com

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM