As dit ’n vorige era was, sou die staatsaanklaer vir die doodstraf gevra het.
Dit was Lawrence More se antwoord Maandag in die hooggeregshof in Pretoria toe regter John Holland-Muter vra wat hy dink ’n gepaste straf vir Raymond Steven Erik Smith sou wees.
“… maar ons is nou, hier, in ’n demokrasie, en ek vra dus dat die hof lewenslange tronkstraf op albei aanklagte van moord oplê,” het More gesê.
Die 37-jarige moordenaar het met ’n strak gesig, sy hande styf saam geklem tussen sy lang bene, in die beskuldigdebank sy lot afgewag.
Agter hom het ’n oupa gesit, een van sy seuns se hand op die geboë skouer.
Tussen die ander familielede het die tenger tienerseun ineengekrimp gesit. Hy was 16 toe hy gesien het, die gille gehoor het, toe Smith sy ouers vermoor.
Die beskuldigde het vroeër skuld beken op twee aanklagte van moord, een van poging tot roof met verswarende omstandighede en een van aanranding op die tiener.
Hy het in Januarie vanjaar ’n advertensie op die internet gesien van ’n huis wat in Lyttelton, Centurion, te koop was.
Smith wou nie die huis koop nie – hy wou die eienaars van die inhoud binne, soos te sien op die bemarkingsfoto’s, beroof.
Hy het ’n afspraak met die agent gemaak en twee keer die huis gaan “besigtig”.
Op 27 Januarie 2025, omstreeks 18:00, is hy weer soontoe.
Hy het opgedaag met ’n vuurwapen – ongelaai – ’n mes en kabelbinders in sy sak versteek.
Smith het die eienaars, die 74-jarige oupa en sy 71-jarige vrou, gevra of hy die huis binne kon besigtig.
Die oupa is met die wapen gedreig en in die badkamer ingestamp dat hy val, wat ’n haarlyn-fraktuur aan sy pelvis veroorsaak het. Die ouma is ook oorrompel.
Hulle is met kabelbinders gebind en met rubberballe in hul monde – styfgetrek met kabelbinders om die kop – gemuilband.
Die ouma kon later om hulp skree.
Agter in die erf, in ’n aparte woning, het hul seun gebly.

Hy het net die naweek tevore sy 47ste verjaardag gevier. Sy vrou sou kort daarna ook 47 word.
Die seun en skoondogter het uitgehardloop om te gaan kyk wat fout was.
Smith het eers die man buite voorgekeer, toe die vrou.
Hy het die egpaar albei kere met sy mes gesteek – ten aanskoue van hul 16-jarige seun.
Dié het in ’n slagofferimpakverslag vertel Smith het opgekyk nadat hy die ma vermoor het en die tiener kon sien die aanvaller “kom vir hom”.
Die kind is skrams met die mes getref, het losgeruk en vir sy lewe gevlug. Hy het homself in ’n kamer toegesluit en beangs en fluisterend sy een ouer suster gebel.
“Mommy and Daddy are lying on the floor and are not moving,” was sy woorde. Hy het gevra dat sy sussies die polisie en ’n ambulans bel en gesê dat hy onder sy lessenaar wegkruip sodat “die man” hom nie kan kry nie.
Smith het intussen gevlug.
Hy is die volgende dag in hegtenis geneem.
More het Maandag tydens sy slotbetoë na die slagofferimpakverslae van die familielede verwys en gesê: “Gegrond op die wreedaardige en angswekkende wyse waarop die twee oorledenes vermoor is, die traumatiese gevolge wat dit het vir die familie – waar ’n hele familiestruktuur opgebreek is met fisieke en emosionele pyn, vra die staat dat lewenslange tronkstraf op die twee aanklagte van moord opgelê word.”
Die aanklaer het gesê Smith het homself “swaar bewapen” vir die misdaad.
“Die familie is aangeval in die privaatheid en heiligheid van hul eie huis. Die trauma sal die oorlewendes die res van hul lewe bybly.
“ ’n Kind is van albei sy ouers beroof. Twee bejaardes is hul seun en skoondogter ontneem,” het More bygevoeg.
Holland-Muter het tydens vonnisoplegging gesê die verswarende faktore weeg swaarder as Smith se persoonlike omstandighede.
“Die erns van dié misdade kan nié onderbeklemtoon word nie. Twee onskuldige mense probeer hul bejaarde ouers help en word wreed vermoor. ’n Jong seun aanskou dit.
“Die huiseienaars was ouer mense wat in ’n lokval gelei is onder die voorwendsel dat die beskuldigde hul huis wil koop.
“Ons land is vasgevang in ’n spiraal van gewelddadige misdade. ’n Lewe wat een keer geneem is, kan nooit teruggekry word nie,” het die regter gesê.
Vanuit die openbare galery was dit doodstil, behalwe soms vir ’n sagte snuif.
Holland-Muter het Smith hierop lewenslange tronkstraf opgelê op elk van die moordklagte, drie jaar gevangenisstraf op die klag van aanranding op die seun en agt jaar weens poging tot roof.
Al die vonnisse sal gelyklopend uitgedien word.
• Die slagoffers se name word weerhou om die minderjarige kind te beskerm.

Ambulanse is ’n teken ouers is dood
Die vermoorde egpaar se oudste dogter het, ná haar laatlam-boetie se angsbevange fluisteroproep daardie Januarie-dag, buite op die sypaadjie oorkant die Lyttelton-huis gewag.
Sy het gesien hoe word haar ouma en oupa met ambulanse weggeneem.
“Hul ambulanse het eerste gery, met die noodligte aan. Toe kom twee ander ambulanse uitgery – met die ligte af. Ek het in my kop uitgewerk dat my ouers dood moet wees. Ek het net daar ineengestort.”
Die vermoorde egpaar se twee dogters is albei in hul laat 20’s.
Die jonger een het eerste hul kleinboetie se oproep gekry dat hy in ’n kamer onder ’n lessenaar wegkruip vir “die man”, dat iemand ’n ambulans en die polisie moet bel, want sy ouers lê bebloed en doodstil op die vloer.
Albei susters het na die toneel gejaag, terwyl hulle geveg het om die drogbeelde in hul gedagtes in toom te hou.
“My kleinboetie se oproep… dit was die ergste oproep ooit. Ek kon nie dink nie, net my hart in my skedel hoor klop,” het die jonger sussie in haar slagofferimpakverslag vertel.
Sy onthou die seun se oproep het afgesny.
Dat sy vir haar verloofde geskree het.
Sy het ’n ambulans ontbied terwyl hy die ander sussie gebel het.
Toe jaag almal na die huis waar die 16-jarige wegkruip vir ’n moordenaar.
“ ’n Miljoen gedagtes het deur my kop gejaag. Daar was hierdie hol kol op my maag,” onthou die jonger suster.
Die huis was met hul aankoms in chaos. Die nooddienste was reeds daar. Hulle is ingelig dat albei hul ouers dood is.
“Ons het hulle nog op Sondag 19 Januarie gesien vir my pa se verjaardagviering; nooit gedink dit sal die laaste keer wees nie…”
Ook die ouer suster sukkel om die vreesgedagtes wat sy ervaar het te verwoord.
Hul boetie het intussen 17 geword. Sonder sy ouers.
Hul ma sou in Maart verjaar het.
Ousus moes vir Boetie inneem.
Sy probeer tans om sy wettige voog te word sodat hy ’n identiteitsboekie kan kry en onder haar mediese fonds val.
Dit is vir sowel haar as vir hom ’n reuse-aanpassing.
Die twee sussies moes hul ouers se roudienste reël. En betaal.
Saam met al die trauma is hulle deur die eerste begrafnisondernemer bedrieg. Hulle moes die lyke na ’n ander, en goedkoper, ondernemer verskuif.
“In ons trauma, met Oupa en Ouma in die hospitaal, die skielike verlies van ons ouers, die ekstreme moeilike proses om my boetie se voog te word, die koste van ’n dubbele begrafnis, is ons uitgebuit,” vertel die ouer suster.
“Dit, saam met wat met my ouers gebeur het, het my vertroue in mense geskend.”
Albei susters moet sielkundige hulp ontvang.
Albei se werk ly weens die voorval.
Die jongste, wat ook studeer, was voorheen ’n cum laude-student. Nou moet sy een van haar vakke oorskryf.
“Daar is geen woorde om regtig die pyn van ons verlies te beskryf nie. Ons ouers was ons ankers. Ons veilige hawe. Hulle het vreugde in selfs die kleinste dingetjie gevind. Omgee-mense wat altyd seker gemaak het ons weet ons is geliefd.”
Ouma en Oupa
Daardie dag het ’n “vernietigende effek” op sy lewe gehad, erken die 74-jarige oupa.
Hy kan nie daaroor praat nie.
Hy wil nie.
“Die verlies van my seun en skoondogter, die barbaarse wyse hoe hul lewe weggevat is, het diep wonde gelaat.”
Hy noem asof terloops dat hy ná die aanval waarin hy en sy vrou op die badkamervloer gegooi en vasgebind is, byna ’n maand lank in die hospitaal was. Hy ervaar steeds fisieke pyn en moet soms hulpapparate gebruik om te kan loop.
Dit wat geroof is, is van minder waarde vir hom, en die versekering het betaal vir die skoonmaak van die bloedige misdaadtoneel.
Wat saak maak, is die dood van sy kind en skoondogter.
Die 71-jarige ouma moes ’n paar dae in ’n ander hospitaal se psigiatriese afdeling opgeneem word.
Naas die verlies van haar geliefdes het haar getraumatiseerde psige nog gevrees wat tydens die aanval van haar honde geword het.
Ná haar ontslag wou sy nie teruggaan na die huis nie.
“Dit was in geen leefbare toestand nie. Dit was steeds vol bloed buite waar die moorde was en in die badkamer waar ons aangeval is. Ek was basies haweloos.”
’n Vriendin het haar ingeneem terwyl die oupa nog in die hospitaal was – en ook die honde.
“Ons moes daarna reëlings tref om by my ander seun en sy vrou in te trek, ’n verdere omverwerping van almal se lewe. My selfvertroue is weggekalwe.
“Ons is fisiek en emosioneel broos,” het sy gesê.
‘Dis nog seer’
Die familie het Maandag ná vonnisoplegging in ’n intieme groepie saamgedrom.
Merle van Staden, van die Lyttelton-gemeenskapspolisiëringsforum, het hulle by die hof ondersteun.
Sy het gesê die familie dra mekaar en staan as ’n eenheid saam.
“Hulle sê hulle is tevrede met die vonnis – dit is die beste wat die regter kon gee onder ons regstelsel.
“Hulle het nog baie seer. Rou,” het sy gesê.
Die beskuldigde
Die hof het gehoor dat Raymond Smith sedert einde 2024 werkloos was.
Sy finansiële posisie was dan ook die motief.
Hy het saam met sy verloofde en kind by haar ouers gebly en hy kon nie die huur betaal nie.
Hy is ook die pa van vier ander kinders by twee verskillende vroue.
Nadat hy grootliks deur sy pa grootgemaak is, het Smith op 18-jarige ouderdom opleiding as ’n veiligheidswag ontvang.
Dit was egter nie “my forte” nie.
Hy het in die staalbedryf begin werk en sy eie onderneming begin.
Nadat hy egter beroof is, het hy weer werk as ’n veiligheidsbeampte verrig – dié slag die vervoer van mediese monsters.
Dit was dié werk wat hy verloor het.
Hy het geen vorige veroordelings nie.





















