’n Man wat na bewering ’n motorwag in Bloubergstrand met ’n mes doodgesteek het, is op borgtog vrygelaat terwyl die polisie nog die ondersoek moet voltooi.
Die voorval het Sondag om 04:00 op die parkeerterrein naby Marine-sirkel in Bloubergstrand plaasgevind.
In beeldmateriaal wat by ’n betroubare bron bekom is, kan die voorval in ’n video van ’n minuut lank gesien word.
In die video kan ’n mens sien hoe ’n man uit ’n voertuig klim terwyl ’n vrouepassasier in die voertuig sit. Die motorwag loop na die man toe en hulle blyk te gesels.
Die motorwag begin saam met die man loop en praat ’n paar sekondes met hom, waarna die man ’n wapen uitpluk en die motorwag aan sy linkerkant steek. Die vrou klim uit die voertuig en die motorwag val tussen twee voertuie neer.
Die paartjie vlug en drie verbygangers sien die wag op die grond en probeer hom help.
Sers. Wesley Twigg, provinsiale polisiewoordvoerder, het bevestig die motorwag is op die toneel dood.
“Die polisie is ontbied waar hulle die slagoffer met ’n steekwond aan sy lyf gevind het. Die motief vir die voorval moet nog bevestig word,” sê Twigg.
Kapt. Adriana Chandler, polisiewoordvoerder van die Table View-polisiekantoor, sê in ’n verklaring wat Maandag uitgereik is speurders het twee mense in verband met die voorval aangekeer.
“Beamptes was besig met roetinepatrollies in die omgewing toe hulle ’n skare mense by Marine-sirkel opmerk. ’n Onbekende man is met ’n steekwond onder die arm aangetref. Paramedici het hom dood verklaar,” lui die verklaring.
Later die dag het speurders verbonde aan die Table View-polisie beeldmateriaal bekom wat vanaf ’n perseel naby die misdaadtoneel geneem is.

“Twee mense is geïdentifiseer en hulle is by ’n huis in Kaapstad in hegtenis geneem,” lui die verklaring.
Die polisie het ’n 30-jarige man en 24-jarige vrou in hegtenis geneem.
Twigg het Woensdag bevestig die vroueverdagte is vrygelaat en nie aangekla nie.
Die man het Dinsdag en Woensdag in die landdroshof in Kaapstad op ’n aanklag van moord verskyn.
Luidens die hofboek van hof 16 is die beskuldigde Neo Malungana (30).
Die saak is van Dinsdag na Woensdag uitgestel sodat hy om borgtog kon aansoek doen. Die staat het nie die aansoek teengestaan nie en, volgens die hof, is Malungana op borgtog van R5 000 vrygelaat.
Die saak is tot einde November vir verdere ondersoek uitgestel.






















