Is die risiko wat die gesamentlike likwidateurs van die Mirror Trading International (MTI)-saak loop om litigasie in ander lande aan te voer, nie dalk ’n mors van geld nie? Geld wat gebruik kon word om eerder krediteure terug te betaal.
Dís een van die kwessies wat Anton Lee, hoof van die MTI-aksiegroep, aanvoer in die jongste onthullings oor wat sy bekommernisse is oor die gedrag van die gesamentlike likwidateurs van MTI, een van die grootste Ponzi-kriptoskemas tog nog toe in Suid-Afrika.
Lee het in 2020 ’n aansoek om MTI te laat likwideer by die hooggeregshof in Kaapstad ingedien en aangevoer Johann Steynberg, baasbrein, het dit as ’n Ponzi-kriptoskema bedryf.
Die hof het MTI uiteindelik gelikwideer en bevind dis ’n onwettige skema, met die meester van die hof wat daarna likwidateurs aangestel het om te bepaal of enige geld verhaal kan word en indien wel, om dit te doen.
Herman Bester, Christopher Roos, Jacolien Barnard, Deidre Basson, Chavonnes Cooper, Kevin Titus, Daniel Ndlovu en Adriaan (Riaan) van Rooyen is as likwidateurs aangestel.
Van Rooyen is in September dood.
Lee is op die punt om regstappe teen die likwidateurs te begin weens beweerde onreëlmatighede en finansiële wanbestuur.
Die likwidateurs het tot einde 2024 gereeld kennisgewings oor die vordering van die geldverhaling op hul onderskeie webwerwe met krediteure gedeel en breedvoerig gesê wie ingevolge watter klas – klas 1, 2 of 3 – hul eise moet indien.
Die eise sou nagegaan word en goedgekeur of afgekeur word, en op die ou end sal die meester van die hof die laaste besluit neem.
Die eerste likwidasie-en-distribusierekening is in Oktober 2023 by die meester se kantoor in Kaapstad beskikbaar gestel, maar net vir 14 dae, met die meester wat dit in November goedgekeur het.
’n Skikkingsbedrag van R235 miljoen is egter eers aan die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) betaal nadat die SAID die likwidateurs ingelig het dat hy R931 miljoen van die MTI-boedel gaan verhaal vir belasting wat vir twee jaar nie betaal is nie.
Die likwidateurs het ook verskeie aansoeke teen voormalige kollegas van Steynberg ingedien om bitcoin wat hulle verhandel het (in geldelike vorm onttrek het), te verhaal. Van dié sake is nog hangende en vrae daaroor aan Susan Strydom, prokureur van die likwidateurs, is nog nie beantwoord nie.
Die likwidateurs het herhaaldelik in omsendbriewe gesê die proses kan lank neem weens verskeie uitdagings, die ingewikkeldheid van die proses, vertragings deur die meester se kantore en die proses om eise te verifieer.
Netwerk24 het verskeie vrae oor die verloop van die poses op 26 September gestuur en teen Donderdag is nog geen terugvoering ontvang nie.
Al wat aangestuur is, is die korrespondensie tussen die likwidateurs en Lee, maar Netwerk24 se vrae daaroor is nie beantwoord nie.
In dié korrespondensie maak Lee die punt dat die likwidateurs glo onverskillige besluite neem om sake in verskeie buitelandse howe aan te pak. Eers moes daar aansoeke ingedien word sodat hulle regstatus in die onderskeie lande kon bekom. Van die sake het ook op kostebevele teen hulle (die likwidateurs) uitgeloop.
Luidens Lee se brief is dit reeds openbaar gemaak dat die likwidateurs R113 miljoen bestee het op regs- en ondersoekkoste, met R135 miljoen wat geoormerk is vir addisionele koste.
“Maar minder as R14 miljoen in waarde is al verhaal vir krediteure. Tot op hede is daar nog geen restitusie aan enige slagoffers van MTI gedoen nie,” sê Lee in die brief.
“Die wanbalans tussen uitgawes en verhaling is onaanvaarbaar,” sê hy en versoek dat die likwidateurs uitgawes oor die volgende aspekte moet openbaar:
• Regs-, konsultasie- en professionele tariewe;
• Hoeveelhede verhaal in kripto-geldeenheid;
• Huidige status en verwagte datum van die tweede likwidasie-en-distribusierekening; en
• ’n Tydlyn vir die verspreiding van geld aan bewysde krediteure.
In repliek op dié deel van die brief sê Strydom R163 108 144 is plaaslik ná 690 skikkings verhaal.
Op internasionale vlak is al R22 555 728 in sewe jurisdiksies in 52 skikkings verhaal.
In Suid-Afrika is 5 000 dagvaardings tans uitgereik aan beleggers wat meer as R100 000 onttrek het en 29 000 dagvaardings aan beleggers wat minder as R100 000 onttrek het. Dis ten doel om sowat R34 miljard te verhaal.
In verskeie provinsies is 1 450 aansoeke om bestekbevele ingedien en met die onderskeie howe is ’n proses probeer bewerkstellig waar die sake vinniger gehanteer kan word.
Internasionaal is eise in 30 verskillende jurisdiksies teen 571 beleggers ingedien om R3,52 miljard te probeer verhaal.
Op albei fronte word gesukkel om beleggers na te spoor en te identifiseer, wat die proses dus ook vertraag.
Eise is wel suksesvol in vier jurisdiksies teen 152 beleggers ingedien waar R1,76 miljard verhaal is.
Ingevolge een van die omsendbriewe sê die likwidateurs 9 412 eise is ingedien.
Volgens hulle poog hulle om so vinnig as moontlik te werk om die tweede likwidasie-en-distribusierekening te finaliseer.
Ongeag Strydom se repliek op sy brief, het Lee die MTI-aksiegroep gestig en probeer geld insamel deur middel van ’n BackaBuddy-veldtog om dié “Dawid-en-Goliat-geveg” te voer.
Volgens Lee moet die waarheid uitkom en sê “genoeg is genoeg”.


















