Hof

Omstrede sakeman kry borgtog in moordsaak

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Foto: Katiso (KT) Molefe
Foto: Katiso (KT) Molefe (Foto: Gallo)

Die omstrede sakeman en moordbeskuldigde Katiso (KT) Molefe is deur die hooggeregshof in Johannesburg borgtog van R400 000 toegestaan.

Regter Brad Wanless het Vrydag in sy uitspraak bevind daar is onvoldoende bewyse teen Molefe om hom agter tralies te hou.

Molefe het appèl aangeteken teen die uitspraak van 20 Augustus in die landdroshof in Alexandra waarin Molefe borgtog geweier is.

Wanless het die Alexandra-uitspraak tersyde gestel.

Molefe se medebeskuldigdes is Michael Pule Tau, Floyd Mabusela en Musa Kekana. Al vier word aangekla in verband met die moord op Oupa John Sefoka, beter bekend as DJ Sumbody, en sy motorbestuurder en lyfwag, Sibusiso Mokoena en Sandile Myeza, in Sandton in 2022. Hulle word ook aangekla van die moord op Sandile Buthelezi, beter bekend as DJ Vintos, wat in ’n afsonderlike voorval in 2022 vermoor is.

Die ander drie beskuldigdes het nie om borgtog aansoek gedoen nie.

Molefe is vroeër vanjaar deur die hooggeregshof in Pretoria op borgtog van R100 000 vrygelaat in verband met die moord op Armand Swart, ’n werknemer van ’n ingenieursonderneming in Vereniging, in 2024.

Molefe was uit op borgtog in die Swart-saak toe hy in Julie weens die Sefoka-moord by sy huis in Sandton in hegtenis geneem is.

* Hou Netwerk24 dop vir meer oor die storie.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM