
Vir 'n vrou van Wilma Koster (65) se ouderdom om iemand wat met 'n vuurwapen gewapen is met haar knopkierie aan te vat, is dapper.
So het lt.kol. Patric Murunwa, ondersoekbeampte, getuig in die borgtogaansoek van Onke Mbongo en Gift Mhlanga, wat teregstaan weens die moord op Wilma en haar man, George Koster (68).
Hulle word daarvan aangekla dat hulle die Koster-egpaar op Saterdag 14 Junie in die Platinum Square-winkelsentrum in Rustenburg se parkeerterrein doodgeskiet het. Hulle word ook van dwarsboming van die gereg aangekla omdat hulle glo nadat hulle van die toneel gevlug het, hul motor probeer wegsteek en sodoende inhegtenisneming probeer vryspring het.
Murunwa het Woensdag op grond van die inligting van vier ooggetuies - 'n egpaar en twee motorwagte - getuig dat Wilma met 'n knopkierie uit haar en George se silwerkleurige Jeep geklim het nadat George geskiet is. Die egpaar het in hul motor gesit en die gebeure aanskou.

Vroeër is getuig dat 'n onderonsie uitgebreek het nadat Mbongo glo die deur van die wit Kia waarin hy en Mhlanga gery het, teen die Koster-egpaar se Jeep gestamp het. Volgens Murunwa het Mbongo in die stryery sy vuurwapen uitgeruk en George geskiet.
Nadat George geskiet is, het Wilma glo met die knopkierie uit die motor geklim.
Luidens Murunwa se getuienis was Mhlanga besig om agteruit te ry toe Wilma die linkeragterruit met die knopkierie uitgeslaan het. Mbongo het haar toe na bewering ook geskiet.
"Die meeste mense sou weens die skote probeer wegkruip of vlug, maar nie mevrou Koster nie. Sy het na die persoon met die vuurwapen gegaan," het Murunwa Donderdag getuig.
LEES OOK | Hof hoor hoe Rustenburg-egpaar op parkeerterrein doodgeskiet word
In sy kruisondervraging het Mbongo se regsverteenwoordiger, adv. Washington Tsiri, Murunwa se getuienis bevraagteken.
"Dit maak nie sin dat 'n knopkierie die motor se venster sou kon breek nie. Dit moes iets baie sterkers gewees het," het Tsiri aangevoer.
Hierop het Murunwa gesê: " 'n Knopkierie is sterk genoeg om 'n venster uit te slaan."
Tsiri het dit aan hom gestel dat 'n koeël wel die venster sou kon breek. Mbongo se weergawe, wat Woensdag aan die hof voorgehou is, lui dat George 'n vuurwapen op hom gerig het en dat hy uit noodweer geskiet het, het Netwerk24 berig. Hy het voorts aangevoer dat Wilma daarna ook 'n vuurwapen op hom gerig en die motor se ruit stukkend geskiet het voordat hy teruggeskiet het.
LEES OOK | Rustenburg-moorde: ‘Beskuldigdes probeer hof mislei' - ondersoekbeampte
Murunwa het gesê daar sou dan 'n gat in die venster gewees het en die koeël sou in die motor gewees of deur die motor getrek het.
Hy het ook vroeër getuig dat nie George of Wilma vuurwapens besit het of oor vuurwapenlisensies beskik het nie.
Daar is ook geen vuurwapens op die toneel gevind nie, het Murunwa vroeër getuig.
Tsiri het dit aan die hof gestel dat die polisie nie onmiddellik op die toneel was nie en dat iemand aan die toneel kon gaan peuter of "iets kon gevat het" voordat die polisie daar aangekom het.
Tsiri het aan Murunwa gesê dat die staat nie 'n sterk saak het nie, waarmee Murunwa nie saamgestem het nie.

‘Die Here het aan haar verskyn'
Die Koster-egpaar se dogter, Jacqueline Engelbrecht, het buite die hof met trane in haar oë aan Netwerk24 vertel dat haar ma twee weke voor die voorval vir haar gesê het dat die "Here aan haar verskyn en gevra het of sy reg is om huis toe te kom".
"Sy het geantwoord dat sy gereed is, want haar grootste hartsbegeerte het waar geword, en dit is om ouma te word," vertel Jacqueline, met verwysing na haar en haar man, Johan Engelbrecht, se peuter.
Wilma het jare lank 'n stryd teen meer as een soort kanker gevoer, maar deurgedruk.
Jacqueline, haar man en haar twee broers, Stanley en George jr., sê dit is moeilik om in die hof te sit en te hoor wat presies daardie dag gebeur het.
"Dit voel asof ek in 'n blik van emosies gedruk is. Ek is kwaad, hartseer en ervaar stres. Dit voel asof dié blik gaan ontplof.
"Ek weet nie wat om met al hierdie emosies te maak nie," sê Engelbrecht.
Die Koster-seuns sê hul ouers se dood het 'n groot leemte in hul harte gelaat.
"Dit voel ook of almal se lewens aangaan, maar my lewe staan stil. Wie gaan ek nou bel as ek karprobleme kry? Ek kon altyd my pa bel. Hy en my ma was altyd, met enige probleem, daar vir ons. Met die intrapslag by die huis kon hulle gesien het daar is fout," het George jr. gesê.
Stanley vlieg Sondag terug na Amerika, waar hy werk. George jr. en Jacqueline woon in Rustenburg.
"Ek dink hul dood gaan my werklik tref sodra ek in daardie vliegtuig klim," sê Stanley. George jr. het bygevoeg dat hy en sy broer en suster saam sterk probeer wees, maar "elkeen huil op hul eie".
George jr. het elke dag by sy ouers gaan inloer en koffie drink.
"Ek was 'n uur voor hul dood by hulle om koffie te drink. Min het ek geweet."
Volgens Stanley het hy sy ouers gebel elke dag wanneer hy ry.
"Met wie gesels ek nou as ek in die bakkie klim?"
Volgens die seuns het hul ouers hulle geleer om "sterk te staan, hoe moeilik dit ook al is". Hulle was ook "die sout van die aarde hul laaste besitting vir iemand in nood sou gee".
George sou Sondag 69 jaar oud geword het. Die egpaar sou op 25 November vanjaar hul 48ste huweliksherdenking gevier het.
"Dit alles is hulle en ons ontneem," het Jacqueline gesê.
Die saak gaan voort.




















